Nóg ʼn bomdreigement in Gauteng

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die Absa-bank in Van der Hoffweg in die weste van Pretoria moes Donderdag ontruim word nadat ʼn bomdreigement ontvang is.

Volgens kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het die bank se assistentbestuurder omstreeks 11:40 ʼn anonieme oproep ontvang wat sê dat ʼn bom daar oor twee minute sou afgaan.

Die bank is vinnig ontruim en die polisie is ontbied. Die polisie se bom- en honde-eenheid het die perseel gefynkam en die gebou is later veilig verklaar. Msimango het gesê die polisie stel ondersoek in oor wie die oproep gemaak het.

Die Clearwater Mall in Roodepoort is Maandag ontruim nadat daar ook ʼn bomdreigement ontvang is.

Cecile Braun, die sentrum se bemarkingsbestuurder, het gesê iemand het die bomdreigement tydens ʼn telefoonoproep gemaak.

“Ons het die oproep ontvang en prosedure gevolg deur die sentrum te ontruim en die polisie te ontbied,” het Braun gesê.

Die winkelsentrum is later veilig verklaar nadat die polisie se bom- en honde-eenheid dit deursoek het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.