Nog ʼn burgemeester sterf weens Covid

Maetu Kgaile, burgemeester van Matolosana-munisipaliteit, is weens Covid-19 dood. (Foto: Matlosana-munisipaliteit)

Die burgemeester van Matlosana in Noordwes, Maetu Kgaile, is Vrydag dood weens Covid-19.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het Kgaile se dood bevestig, asook dié van Bongani Gxilishe, departementshoof van Cogta in Gauteng.

“Dit is hartseer dat albei ons verlaat terwyl hulle steeds ʼn belangrike rol in die plaaslike regeringsektor gespeel het. Die sektor gaan ongetwyfeld armer wees sonder hulle insette en raad,” het die minister in ʼn verklaring gesê.

Kgaile is op 11 Julie in ʼn hospitaal opgeneem, waar sy enkele dae later gesterf het. Dít terwyl die stryd steeds woed om die derde vlaag Covid-19-infeksies in Gauteng, wat tot dusver die episentrum van die derde vlaag was, asook in die res van die land te stuit.

Kgaile is in 2016 tot burgemeester van Matlosana (Klerksdorp) verkies en was die eerste vrou in dié pos by die munisipaliteit. Sy was vantevore die burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling.

Gxilishe was die departementshoof van paaie en vervoer van 2010 tot 2013 en is in Mei 2013 aangestel as hoof van die Oos-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme. Hy het hom in November 2019 by Cogta in Gauteng aangesluit.

Die sterftes volg kort ná die dood van Geoff Makhubo, Johannesburgse burgemeester, wat verlede Vrydag ook weens Covid-19-verwante komplikasies dood is.

“Hoewel ons patriotiese leiers en toegewyde dienaars van die mense verloor het, sal ons hul werk eer en voortgaan om omstandighede te skep waarin ons gemeenskappe kan ontwikkel,” lui Dlamini-Zuma se verklaring.

Sy het ook haar medelye met die kollegas, vriende en families van die twee oorledenes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

Dié raadslede, ministers ens is almal op die beste mediese fondse en kry puik privaat mediese versorging en word NET in privaat hospitale opgeneem, waar hulle dikwels deur meestal wit dokters behandel word (dan tel die regstellende aksie blykbaar nie). So dis vreemd, dié sterfte.

Anel ·

En hulle was nogal mooi maer en sonder enige ander onderliggende siektes. En hulle was ook nie korrup nie. Ai, maar dit is so hartseer dat sulke wonderlike mense nou aan die gevreesde siekte moes beswyk!

Nico ·

My medelye met die kripvreters wat nou van voor àf moet geld uithaal om n plekkie by die nuwe trog te verséker. Net toe hulle dink alles loop nou glad en die wiele is genoeg geolie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.