Nóg ʼn DA-lid loop oor na ActionSA

Michael Shackleton. (Foto: Facebook)

Die DA het nóg een van sy lede aan sy politieke mededinger, ActionSA, verloor. Dit is nou al die hoeveelste politikus wat na hierdie party toe oorgeskuif het.

ActionSA het Donderdag aangekondig dat Michael Shackleton, die DA se streeksvoorsitter van Gauteng-Noord, bedank het en dat hy eersdaags by ActionSA sal aansluit. Die party skimp boonop dat aankondigings oor nóg aanstellings van grootkoppe in die politieke spektrum binnekort sal volg.

“Michael se redes om die DA te verlaat is nie veel anders as dié van die ander lede wat die DA verlaat het of diegene wat nog probeer om die DA te verlaat nie,” sê Herman Mashaba, president van ActionSA.

“Dit sluit in die agteruitgang van die DA as ʼn inklusiewe tuiste vir alle Suid-Afrikaners en die party se terugtrede as ʼn verkiesingsalternatief vir die ANC.”

Shackleton, wat reeds op die ouderdom van 34 jaar tot die rang van ondervoorsitter van die Tshwane-streek gevorder het, het voorheen as ʼn lid van die Nasionale Vergadering, ʼn lid van die Gautengse provinsiale wetgewer en as ʼn lid van die Tshwane stadsraad gedien.

Hy is ʼn inwoner van wyk 96 in Tshwane en meen dat die hantering van hierdie gebied juis een van die redes is waarom hy nie sy politieke toekoms saam met die DA kan sien nie.

“Een van die redes waarom ek bedank het, is oor hoe die DA ons gemeenskap sedert 2016 en nou in hierdie tussenverkiesing behandel het. Hoe kan jy immers deel wees van ʼn party wat jou eie gemeenskap so verkeerd hanteer,” sê hy.

Volgens Shackleton het hy onder andere gesien hoe die DA niks daaraan gedoen het om ʼn vorige wyksraadslid, Hannes Coetzee, se oproepe om korrupsie by die Rooiwal-suiweringsaanleg te ondersoek, te ondersteun nie.

“Ek het gesien hoe die DA-leiers nêrens te vinde was nie toe die Pyramid-substasie afgebrand het en Hannes nagte lank saam met tegnici gewerk het om elektrisiteit te herstel,” sê hy.

“Nou, wanneer daar ʼn tussenverkiesing in ons wyk gebeur, is dit skielik asof die DA vir die eerste keer besef dat my wyk, en my gemeenskap, bestaan. Waar was hulle die afgelope paar jaar? Waar was hulle toe ons wyk hulle nodig gehad het?”

Shackleton se bedanking, volgens Mashaba, wys die ware omvang van die DA se mislukking in sy hantering van dié wyk, en vele ander.

“Die feit dat die ondervoorsitter van die DA in Tshwane bereid is om te bedank as lid en as openbare verteenwoordiger van die party vir meer as 14 jaar, wys tot watter mate inwoners deur die DA in die steek gelaat is.”

Talle grootkoppe van die DA het die afgelope tyd hulle poste by dié party opgegee ten gunste van ʼn pos by ActionSA. Athol Trollip is een van die hoëprofielpolitici wat hom onlangs by Mashaba se party geskaar het.

Volgens Mashaba sal ActionSA in die komende maande nóg ʼn hele paar gesoute en opkomende politici as deel van sy party bekendstel.

“Dit is vir my aangenaam om aan Suid-Afrikaners te rapporteer dat ons ʼn aantal prominente Suid-Afrikaners van reg oor die politieke spektrum en diegene sonder politieke ervaring het, wat in die komende maande by ActionSA gaan aansluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Sarel ·

Pasop last fie ANC jou Party infiltreer soos wat met ander gebeur voor jou gebeur het nie.

Swerwer ·

In ons land sal ons ou nasietjie nooit kan saamstaan nie.
Kyk maar na privaat christen skole, die kerke en politieke partye,
daar is wynig wat nog nie afgestig/afgeskeur het van die oorspronklike
nie

Johan ·

Dit gaan lankal nie meer oor die saak nie. Dit gaan oor geld. Het seker beter offer gekry

De Villiers ·

Soos die Engelsman sê “And Nothing Of Value Was Lost”

Mariana ·

Die gras is altyd groener aan die ander kant……tot dit nie meer is nie. Kom DA kyk wat is verkeerd binne jul party, wie weet miskien is daar redes hoekom mense oorloop na ander.

Wat op dees Aarde ·

Daar is beslis iets binne-in die DA wat nie pluis is nie. Athol Trollip was ‘n groot DA aanhanger. Om hom van party te laat verander spreek boekdele.

piet ·

Nou watter track record het Action SA? Ons sal maar sien as hulle eendag iewers aan bewind kom wat gebeur.

Samuel ·

Hoeveel keer moet ek nog inteken, MM??

Die DA in die Weskaap het hom oor en oor bewys as ‘n party vir die welgesteldes. My wyksraadslid is ook baie onwillig om te help wanneer jy hulp of raad benodig.

Die DA moet ophou geraas maak en daadwerklik optree.

Johan D ·

Die perd toor met my kop, hy is die streeksvoorsitter vd DA en kla vd DA se afwesigheid! Waar was hy dan, lyk my hy het ook maar slapgelê of hoe?

Deon ·

Hoe kan jy vra waar was die DA vir jou wyk, jy is mos die “DA” daar, of hoe het ek dit dan nou?

Joe Olivier ·

Nadat ek na die ou op Pta FM geluister het, dink ek dat teen 2024 is hy by die anc.

JD ·

In die grootmenswêreld, indien mens verteenwoordiger van enige instansie is, beteken dit dat alle tekortkominge wat voorkom, a.g.v. swak bestuur is. Dit is die bestuurder se werk om met die kiesers as “ward councillor” te kommunikeer. Maklik om die werkgewer te blameer as mens nie jou werk doen nie. Dink hy regtig alle top leiers kan by alle takke elke dag wees?

pompies ·

Ek dink hy weet die kiesers is vies oor die belasting en toegangs fooie wat hulle skielik vir water en elektrisiteit ingestel het en die erfbelasting wat die hoogte in geskiet het. Hulle kan ook nie veel onderhou nie kyk maar net na die slaggate in die paaie in en om Pretoria.

Genis ·

Kyk hoe verval die Moot, die DA is pateties, wil mooi lyk op plakate… Ons strate, sypadjies, straatligte is in haaglikke toetstande… Stadbeplanning is tot niet, orals word daar onwettig gebou….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.