Nog ʼn deurbraak ná wrede moord op bejaardes

Argieffoto

ʼn Man wat reeds in aanhouding was, word nou ook aangekla in verband met die moord op ʼn bejaarde egpaar verlede maand.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die 37-jarige man was in die Kirkwood-gevangenis in aanhouding aangesien hy aangekla word van ʼn huisroof wat verlede maand in Paterson plaasgevind het. Hy sal Woensdag in die hof verskyn in verband met die moorde op Ken Alexander (76) en Elaine Allwright (78).

Vuyani Sifunda (21) het Maandag vlugtig in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn in verband met die moorde op die egpaar. Die saak is tot 7 November uitgestel. Sifunda, wat teregstaan op drie aanklagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede, sal na verwagting tydens sy volgende verskyning om borgtog aansoek doen.

Maroela Media het vroeër berig Sifunda is verlede week in hegtenis geneem toe hy in die Paterson-landdroshof verskyn het in verband met ʼn saak van huisbraak.

Alexander en Allwright is einde September wreed in hul huis in Schoenmakerskop aangeval. Alexander is tydens die aanval doodgeslaan. Allwright is erg aangerand tydens die aanval en in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem waar sy ʼn paar dae later dood is.

Volgens Naidu word Sifunda ook aangekla van ʼn moord wat op 23 September op die terrein van die Forest Hill-begraafplaas in Schoenmakerskop plaasgevind het. Tyrone Plaatjies (49) is met ʼn hamer doodgeslaan terwyl hy en ʼn vriend in ʼn woonwa gelê en slaap het en deur twee mans oorval is. Die aanvallers het met R50, ʼn selfoon en Plaatjies se voertuig op die vlug geslaan. Plaatjies het op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk.

Naidu het vroeër gesê die polisie verwag om binnekort nog mense in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.