Nog ʼn donker vakansietyd vir Helpende Hand

Dot Becker. Foto: Verskaf

Net meer as ʼn jaar nadat Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en sy gesin in ʼn tragiese motorongeluk betrokke was wat die lewe van twee van sy kinders geëis het, het nog ʼn tragedie Helpende Hand getref.

Die organisasie het Maandag in ʼn verklaring bevestig Dot Becker (53), die hoof van Helpende Hand se tak op Kimberley, en haar man, Flippie, is op 7 Januarie in ʼn ongeluk met ʼn vragmotor naby Mosselbaai oorlede.

Marlien van der Westhuizen, woordvoerder van Helpende Hand, het gesê daar word vermoed dat die Beckers se voertuig die kant van die vragmotor getref het, nadat die vragmotor ʼn U-draai in die pad gemaak het. Volgens kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, word ʼn saak van strafbare manslag ondersoek.

“Die drie ander passasiers, Susan le Grange (81), Nannie Müller (78) en die egpaar se sewejarige kleindogter, Eldoné Cornelius, is deur nooddienste na verskeie hospitale in George vervoer,” het Van der Westhuizen gesê.

Dot Becker was sedert 2012 die hoof van Helpende Hand se tak op Kimberley.

Die ongeluk kom net meer as ʼn jaar sedert die ongeluk van die Brink-gesin op 16 Desember 2016 wat skokgolwe deur die land gestuur het.

Danie, sy vrou, Lise, en hul vyf kinders was daardie dag op pad na hul vakansiebestemming toe een band van die motor op ʼn pad buite Theunissen in die Vrystaat losgekom en die voertuig gerol het. Die egpaar se oudste seun, André (12), en hul jongste dogter, Rachel (8), is op slag dood.

Johan (toe 10 jaar oud) het kopbeserings opgedoen, terwyl Lise baie ernstig beseer is. Danie, Mieke (toe 15 jaar oud) en Daniël (toe 2 jaar oud) het slegs ligte beserings opgedoen.

Danie en Lise Brink by hul kinders, Johan, Mieke en Daniël (Mei 2017). Foto: René Roux

Die Brink-ongeluk is opgevolg deur twee ander sterftes in die Helpende Hand-range. Monica Annandale van die Thabazimbi-tak het op 17 Desember 2016 ook in ʼn motorongeluk gesterf en Attie Barnard (53) van die Wellington-tak in die Wes-Kaap is op 19 Januarie 2017 skielik dood.

Volgens Kobus Venter, streeksorganiseerder vir Helpende Hand se Vrystaat en Noordkaap-streek, was Dot ʼn “ystervrou” vir wie niks te veel moeite was nie.

“As voorsitster van die Kimberley Helpende Hand-tak het sy sedert 2012 gehelp om armoede trompop te loop. Haar betrokkenheid by die bevrediging van die basiese behoeftes van armes en die aanleer van vaardighede by hierdie mense, het vele suksesverhale opgelewer,” het Venter gesê.

“Een van haar grootste gawes was om haar netwerk te gebruik om ’n funksie suksesvol te kon aanbied.”

Dot en Flippie Becker se gedenkdiens vind op 19 Januarie by APK Die Kruis, Kimberley, om 11:00 plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gesiggie ·

Die Hand wat altyd bereid was om te help die Hart van Goud….. om ander te help in nood , dit is regtig so Hartseer dat Helpende Hand soveel mense al moes verloor… my Innige simpatie aan Dot en Flippie se Familie en Vriende… God het sy Roos gepluk… om vir Hom ook n Helpende hand te wees…

PJC ·

Al weer ń vragmotor. Ons het nie vragmotors en taxis op ons paaie nodig nie.

Jean ·

Ai my hart is baie baie seer vir julle….mag die Here almal van jul dra…

Nicolise ·

Dis baie tragies. Ek dink nie die mense sien altyd raak wat hierdie vrywilligers deurgaan agter toe deure nie. Ek is self die voorsitter van Phalaborwa tak al van 2009 af en glo my jy huil baie oor mense wat swaarkry en mense wat jou sleg sê. Hierdie mense is engel mense en baie tragies dat hulle moes sterf oor onbekwame bestuurders op ons paaie. Baie sterkte aan die familie en vriende.

Theresa ·

Innige simpatie aan familie en vriende! SO jammer! Wat het die vragmotorDRYWER besiel? Waarom wou hy ‘n u-draai maak? Direk verantwoordelik vir hul dood.

Zelda ·

Die tyd het aangebreek om die Firma’s & trok drywersse name ook bekend te maak in die berigte. Almal skryf net van die slagoffers wat so tragies sterf aan die hand van roekelose trok drywers. Ons verstaan dat ongelukke gebeur, maar daar gebeur hopeloos te veel ongelukke waar trokke by betrokke is. Ons nasie word uitgemoor deur trokdrywers en plaasmoorde. Maar net nog ‘n statistiek – ek sal weet, my kind is ook dood gery deur ‘n trok drywer. Wag nog steeds vir geregtigheid om te geskied….

Annelize Smit ·

Woorde is min en ons harte is so seer! Mis jou nou en altyd. Tot ons weer ontmoet in ons hemel huis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.