Nóg ’n dwelmmuil vas

Argieffoto ter illustrasie.

Die Valke het vandeesweek ’n verdagte in Kimberley in die Noord-Kaap in hegtenis geneem in verband met handel dryf met dwelms ter waarde van meer as R2 miljoen.

Chibugo Ezeh (31) is Dinsdag in hegtenis geneem sowat ’n maand nadat die Noord-Kaapse polisie op kristalmetamfetamien en CAT met ’n geraamde straatwaarde van R2,7 miljoen in ’n huis op die dorp afgekom het.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, sê in ’n verklaring niemand is toe in verband met die vonds  in hegtenis geneem nie en die saak is na die Valke vir verdere ondersoek verwys.

Volgens Mnisi het Ezeh se regsverteenwoordiger hom Dinsdag aan die Valke oorhandig, nadat die Valke se ondersoek Ezeh as verdagte geïdentifiseer het.

Ezeh het intussen in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van dwelmhandel. Hy sal weer op 13 Februarie in die hof verskyn, waar hy na verwagting aansoek om borgtog sal doen.

Hy bly tot dan in aanhouding.

Die inhegtenisneming volg sowat ’n week nadat drie dwelmmuile op die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg in Gauteng vasgetrek is.

Brig. Vish Naidoo by dwelms wat by die OR Tambo-lughawe afgeneem is. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig die lughawe se owerhede het op inligting gereageer en ʼn man en vrou onderskep nadat hulle in Suid-Afrika gearriveer het. Die vrou het 21 kg dwelms, vermoedelik kokaïen, in haar tas gehad en die man 4 kg dwelms, vermoedelik ook kokaïen, om sy middel en bors vasgemaak.

Terwyl dié twee verdagtes nagegaan is, het die Valke boonop inligting opgevolg dat nóg ʼn dwelmmuil op pad was vir ʼn vlug na Hongkong. Die polisie het vinnig gereageer en die man, ʼn 49-jarige van Brakpan, in hegtenis geneem. Dié het net meer as 5 kg kokaïen om sy middel en bors vasgemaak gehad.

Dit was die tweede keer in ’n kwessie van ’n maand dat ʼn dwelmmuil onderweg na Hongkong vasgetrek is. Op 12 Januarie is Fiona Kruger vasgetrek en in hegtenis geneem toe sy kokaïen na Hongkong probeer smokkel het.

Die VF Plus in Gauteng sê hy is bekommerd oor die veiligheid- en sekuriteitsmaatreëls by die OR Tambo-lughawe, aangesien 20% van alle dwelmmuile wat in 2018 op die Hongkong-lughawe in hegtenis geneem is, vanaf dié lughawe vertrek het.

Luidens ’n verklaring het sowat ’n 100 manlike dwelmmuile wat sedert 2017 in Mauritius in aanhouding is, glo ook vanaf OR Tambo-lughawe vertrek. Kokaïen is die gewildste dwelm wat uitgesmokkel word.

Sowat 800 Suid-Afrikaners is tans in buitelandse gevangenisse vir beweerde dwelmhandel volgens die VF Plus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

Mooi – hoop net hulle bitter lang vonisse en vlug nie as hulle borgtog kry nie. Vir harde misdaad soos moord en dwelms en verkragting moet daar geen borg toe gestaan word nie.

Anel

Kry vir julle. Daar is nie pille vir domgeit nie, maar daar is deesdae glo ‘n stropie! Maar nou ja, vir mamon sal sekere mense hulle sirle verkoop.

Niklaas

Geen simpatie met dwelm verspreiders nie. Talle lewens word benadeel deur misbruik van daardie gemors. En die smouse voel vere.

Leon

Wees versigtig as jy met ‘n tas reis wat ‘n ritsluiter het. Jy kan ‘n slot aan die ritsluiter sit om hom te sluit. Dwelm versreiders gebruik ‘n pen om die ritsluiter in die lughawe oop temaak. hulle sit die dwelms in jou tas en trek net die ritsluiter heen en weer en hy is toe. As die persoon wat die dwelms moet optel aan die anderkant nie vinnig genoeg is nie, trek hulle jou vas met dei dwelms en jy het absoluut geen verweer nie.Daar sit ‘n hele paar mense oorsee in tronke wat so ‘n stel afgetrap het.… Lees meer »