Nog ʼn eiendomsagent glo deur dieselfde rowers aangeval

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die eiendomsagent wat verlede week vir twee ure lank op ʼn badkamervloer vasgemaak is nadat sy deur sogenaamde “huiskopers” beroof is, is glo ten minste die derde eiendomsagent wat deur dié rowers geteiken is.

Maroela Media het verlede week berig Suzette van Loggerenberg (39), ʼn eiendomsagent van HRE Eiendomme in Heidelberg, het ʼn huis wat leeggestaan het in Vosstraat, Rensburg, aan twee mans gewys wat hulle as voornemende kopers voorgedoen het. Daar het hulle haar oorval, op die badkamervloer vasgemaak en van haar selfoon, beursie en Toyota-bakkie beroof.

Intussen het ʼn ander eiendomsagent Maroela Media genader en vertel dat dieselfde met haar gebeur het. Die agent, wat verkies om anoniem te bly ter wille van haar veiligheid, het in Februarie ʼn leë huis in Kliprivier aan twee mans gewys.

“Die mans het my by ʼn winkelsentrum  ontmoet en ek het hulle na die huis geneem. Hulle het in ʼn wit VW Polo gery. Die een man was in sy 20’s terwyl die ander in sy 40’s was. Hulle het hulself as Lucky en Wiseman voorgestel,” het sy gesê. Sy vertel dat sy besig was om vir hulle die huis te wys toe sy skielik die vuurwapen teen haar kop gevoel het in die hoofslaapkamer.

“Hulle het my hande en voete met kabelbinders vasgemaak en my op die grond laat lê. Daarna het hulle my horlosie, ring en goue hangertjie afgehaal en my motor se sleutels gevat.” Die rowers het haar glo ʼn stuk papier gegee om haar bankbesonderhede op neer te skryf. Sy het dit neergeskryf, maar het nie haar beursie by haar gehad nie en hulle kon dus nie haar bankkaarte in die hande kry nie.

Terwyl die rowers met haar besig was, het die eienaar van die huis toevallig daar aangekom. Die rowers het hom ook oorval en vasgebind. “Hulle het teruggekom na die kamer waar ek gelê het en een of ander middel in my gesig gespuit. Dit het ʼn chemiese reuk gehad en het my slaperig laat voel,” het sy gesê.

Sy vertel dat sy haarself gedwing het om wakker te bly en geluister het hoe die rowers met haar motor wegry. Toe sy seker is dit stil, het sy opgestaan en geskuifel tot by die kombuis waar die eienaar vasgebind gelê het. Hulle kon daarin slaag om hulself te bevry en het hulp gaan soek.

Ná die voorval het ʼn privaatspeurder haar genader en haar foto’s gewys van die twee mans wat haar vermoedelik beroof het. Sy het hulle dadelik op die foto’s herken. Maroela Media het dieselfde foto’s aan Van Loggerenberg gewys en sy het ook bevestig dat dit die twee mans is wat haar beroof het.

Maroela Media verneem dat ʼn derde eiendomsagent in September verlede jaar in Alberton deur dieselfde twee mans op dieselfde wyse beroof is.

Die eiendomsagent wat in Kliprivier beroof is, het probeer om die foto’s aan die polisie te verskaf, maar beweer hulle het tot vandag toe nog nie die foto’s by haar gekry nie. “Die ondersoekbeampte is altyd te besig om met my te praat en bel nooit terug as ek boodskappe los nie. ʼn Ruk gelede het iemand my laat weet dat die saak vir tyd en wyl gesluit word totdat meer inligting beskikbaar is,” het sy gesê.

Maroela Media het die polisie om kommentaar genader en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sumari ·

Kyk nou begin dit net te erg raak. Hulle skrik vir niks en niemand omrede daar niks aan hulle gedoen word nie. Word hulle gevang is hulle maar net weer uit en doen dit net weer en flippen weer. Die president sit net op sy boude en doen absoluut niks om die land veilig te hou nie. Gun wonder mense begin nou land uitvlug nie. Jy mag ook niks vir hulle se nie dan is jy ‘n rassis, maar hulle kan se en doen wat hulle wil. Is moeilik om kalm te bly met die goed wat nou die land beheer.

Dawie ·

Vir wat publiseer julle nie die twee se fotos nie, dis mos n gudlige geleentheid om die mense vas te trek, dit help niks die foto’s is in julle besit nie maar word nie gepubliseer nie!

Dave ·

Presiès soos Dawie sê….. waarom publiseer julle nie die fotos, Maroela?

JWK ·

Ek stem Dawie. Elke eindomsagent in die land moet weet hoe hierdie twee lyk.

christine ·

Hoe kan julle so onverantwoorlik wees. Nee dammit waars julle wapens. Een aan elke sy, neem nog twee eiendoms agente saam, al moet jy komm deel, julle kan dit nie doen nie dis eenvoudig te gevaarlik. Wed julle hulle werk vir die polisie ou kalante.

Winston ·

Hierdie is beskermde uitgeslape werf pestings. Deel liewer die komissie met nog n agent en speel veilig. Pasop vir wapen dra tensy jy hulle die huis wys met n wapen as “pointer”. Twee mans oorompel n vrou alleen met gemak en dan is jy jou wapen kwyt en dalk nog jou lewe. Om te wag op n antwoord van die polisie is…..nou ja toemaar. Die belangrikste is nou die onbelangrike.

Angel Slabbert ·

Ek gaan nooit alleen vir ‘n mandaad of kopers as dit ‘n man is wat my nader nie. Ek probeer ook nie my gesig publiseer nie. Daar is ‘perverts’ wat my al lastig geval het met vieslike goed op my sell. Ek skou ook glad nie ‘n huis as die eienaars nie ook teenwoordig is nie. In vandag se lewe is dit ver te gevaarlik. Ons agente is maklike ‘targets’. Ek se julle moet die fotos en voetuig info van die boewe aanstuur vir al die agente. Bv: stuur dit vir my, ek stuur dit vir my kollegas en mede agente pelle en hulle stuur dit ook weer aan. Min moeite, min koste ens. So kan ons mos mekaat help…wie stem saam?

Alicia ·

Wys die fotos… Ons Eiendoms Agente moet weet hoe hulle lyk. Ek is al 13 jaar ‘n Eiendoms Agent in Kempton Park en ons het al ‘n mede Eiendoms Agent ‘n paar jaar gelede hier verloor wat ook deur “Voornemende Kopers” dood geskiet is voor ‘n leë huis wat hy vir hulle moes gewys het. Ons het die reg om te hulle bakkies te sien en op die uitkyk te wees. Julle kan dalk net so een van ons se lewens red. Sowat ‘n jaar of twee terug het ons ook ‘n ope uur gehou en 10 minute na die ope uur het daar ‘n kar gestop en hulle het gemaak of hulle laat was vir die ope uur en vir die verkoper gesê hulle is Eiendoms Agente – hulle het haar vas gemaak en hulle self gehelp tot alles wat hulle wou vat in haar huis! Dis tyd dat ons bietjie hulp kry van die Media af – wys ons wie hulle is!

Esther ·

Ek stem. Wys hul bakkies. Dis ons reg om te weet hoe hulle lyk.

Janine ·

Wat ‘n absolute skande dat mens nie eens veilig in werksomstandighede is nie. Dat die land al so verval het, en mense nou maar net aanvaar jy MAG nie alleen iewers gaan. Nee, magtig! Ons is geregtig daarop om VEILIG te wees, ongeag waar en of mens stoksielalleen is! Wat de hel maak dit reg om so te moet leef? Kriminele het meer verdomde regte as ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.