Nóg ʼn familie uitgewis

Argieffoto: Kent Williamson

Skaars twee dae nadat agt mense, waaronder ses kinders, van dieselfde familie tydens ʼn aanval vermoor is, is nóg ʼn familie in rou gedompel nadat vyf van hul familielede doodgeskiet is.

In die jongste voorval is vyf familielede Donderdagaand in Mariannhill in Pinetown deur onbekende gewapende mans aangeval.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het Vrydag gesê die aanvallers het omstreeks 23:00 toegeslaan en op die vyf familielede, tussen 19 en 34 jaar oud, losgebrand.

“Vier van die mense is op die toneel dood. Die ander slagoffer is in die hospitaal dood,” het Gwala gesê.

Die Mariannhill-polisie het dossiere vir vyf sake van moord aanhangig gemaak, waarna die ondersoek na die provinsie se trio-taakspan oorgeplaas is. Die motief vir die aanval word ondersoek.

Dit is nie duidelik of dié voorval verband hou met die skietvoorval Dinsdagaand in Matimatolo, suidoos van Greytown, nie.

Maroela Media het vroeër berig lede van die gemeenskap het geweerskote gehoor en gaan ondersoek instel.

“Hulle het gesien ʼn huis is aan die brand en het probeer om die mense in die huis te red, maar die brand was reeds buite beheer. Vyf familielede, ʼn 60-jarige vrou en vier kinders, tussen twee en 16 jaar oud, is in die huis dood,” het Gwala toe gesê. ʼn Tweede huis, sowat 100 m verder, is ook aangeval. Daar is ook geweerskote gehoor en die huis is ook aan die brand gesteek.

“Gemeenskapslede kon daarin slaag om drie kinders uit die huis te red.” Volgens Gwala is ʼn 58-jarige vrou op die toneel dood. “Sy het ʼn skietwond opgedoen en het ook brandwonde gehad. Die kinders is na ʼn hospitaal gehaas waar twee van hulle aan hul beserings beswyk het.” Volgens Gwala word daar vermoed dat ʼn familietwis tot dié tragedie gelei het.

Gwala het gesê die trio-taakspan is deur die waarnemende provinsiale polisiekommissaris opdrag gegee om die sake te ondersoek en te verseker dit word opgelos.

“Sulke aanvalle op families kan nie geduld word nie. Ons sal onverpoosd werk om die sake op te los en die moordenaars tronk toe te stuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eish ·

Weer Kwaai Zulu Natal.
Die land is buite beheer met die onwettige vuurwapens wat meer is as die wettiges!

marous ·

Die land word deur moordenaars , rowers , verkragters , diewe , kinder molesteerders , korruptes en die vet weet wat nog beheer. Die polisie en weermag het nie die bevoegdheid of die wil om voorkomend op te tree nie. Die balans tussen orde en chaos het getuimel en niemand gaan iets daaraan doen nie . Die land is gebreek !

Vuurwapens ·

Dan het ons hierdie wonderlike ‘gun control’ in hierdie land om reeds veiligheid te waarborg vir die publiek? Ga! En nog ‘n keer: GA!!

Sê maar net1 ·

Die polisie kan ons nie meer beskerm nie en hul is streng met hul wapenwet teenoor wetsgehoorsames. Hoe kan ons onsself beskerm sonder wapens? Die polisie kan ons nie beskerm nie

Veritas ·

Sê maar net 1, jy hoef nie sonder ‘n wapen te wees as jy nie ‘n kriminele rekord het nie. Al wat jy hoef te doen is om ‘n bevoegdheidssertifikaat te bekom ‘n wapenhandelaar te besoek en aansoek te doen by jou naaste polisiestasie wat lisensies hanteer. So maklik as uit ‘n boom te val- net nie so seer nie.

snoefie ·

alle simpatie. maar ek moet dit sê. die anc en sapd moet verantwoordelikheid aanvaar. pleks van rassisme n prioriteit te maak moes hulle kriminaliteit bekamp het. wat jy saai, sal jy verdomp maai.

Jan ·

Janee hulle sal onverpoosd werk om die moordenaars te vang net omdat hulle swart is, wat van die plaas boere?

Vi ·

Ek sal die ANC davaar v miljoene der miljoene by die in VN en nie ophou totdat die moorde ophou nie en die ANC verantwoordelikheid aanvaar nie!.?.My absolute simpatie met die verskriklike en onbeskryflike verlies vd wat agterbly.

Boet Fasie ·

Die polisie kan ons nie beskerm nie want hulle sit en slaap in die aanklag kantoor of is besig met hare en ander dinge. Misdadigers is besig om die land te regeer en mense ongeag kleur te vermoor en net eenvoudig dood te skiet. Dit help ook nie dat die doodstraf terug gebring word nie want hulle sal in SA net die witman hang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.