Nóg ʼn familielid sterf ná polisieman losbrand

Argieffoto

Die dodetal het gestyg nadat ʼn polisiebeampte van Limpopo oor die naweek vyf familielede geskiet het, voor hy glo sy eie lewe geneem het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die dodetal staan nou op drie ná die skietvoorval wat Saterdag omstreeks 22:25 in die Lusaka-nedersetting in Ritavi buite Tzaneen plaasgevind het.

Maroela Media het vroeër berig die 37-jarige konstabel het vermoedelik ná ʼn rusie sy meisie se 53-jarige pa in die kop geskiet. Hy is op die toneel dood. Die konstabel het daarna sy 27-jarige meisie, haar 51-jarige ma, en haar jonger suster (22) en broer (24) geskiet en gewond voor hy sy eie lewe geneem het.

Die slagoffers is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar die jong man Sondagaand aan sy beserings beswyk het. Die drie vroue is steeds in die hospitaal.

Ngoepe het gesê die beampte se vuurwapen is op die toneel langs sy liggaam gevind. Die oorledenes se identiteite is intussen bekend gemaak.

Die polisiebeampte, konst. Ronald Maluleke, was verbonde aan die Haenertsburg-polisiestasie. Die twee mans wat dood is, is Mishack Baloyi, die pa van Maluleke se meisie, en Pegeant Masondo, haar broer.

Volgens Ngoepe is die motief vir die voorval huishoudelike geweld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leahim ·

Ek sidder as ek dink n polisie beampte wat nie eers n familie twis kan hanteer nie hoeveel nog is daar en wat as hulle die gewone man op straat begin aanval hulle blyk nie net nutteloos te wees nie maar ook gevaarlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.