Nóg ʼn Gauteng-munisipaliteit behou kragvoorsiening

Argieffoto

Die Gautengse provinsiale regering het Donderdag bevestig dat Eskom nié voortgaan om inwoners van die Merafong-munisipaliteit (Carletonville) in Gauteng se water- en kragtoevoer af te sny nie.

Barbara Creecy, Gauteng se LUR vir finansies, het gesê die provinsiale regering kon vandeesweek daarin slaag om ʼn ooreenkoms aangaande betalings met Eskom aan te gaan.

Die munisipaliteit het verlede maand ʼn kennisgewing ontvang dat beurtkrag ingestel gaan word omdat ʼn betaling nie aan Eskom gedoen is nie. Die munisipaliteit het teen die einde van Julie vanjaar R129 miljoen aan Eskom geskuld. Dié bedrag staan tans op R173 miljoen, ondanks ʼn betaling om die ligte aangeskakel te hou.

Teen die einde van Julie het dié munisipaliteit Rand Water ook R50 miljoen geskuld en dié bedrag het intussen tot R60 miljoen opgeloop.

Die Emfuleni-munisipaliteit (Vanderbijlpark en Vereeniging) in Gauteng se kragvoorsiening is in September vanjaar ook ná talle dreigemente nié afgesny nie nadat die Gautengse provinsiale tesourie ook betaalplanne met Eskom onderhandel het.

“Ons het ʼn brief van Eskom ontvang wat bevestig dat kragvoorsiening aan Merafong nié meer onderbreek sal word nie. Ons is baie bly oor dié ontwikkeling. Ons wil nie hê ʼn tekort aan krag moet ʼn negatiewe impak op ons inwoners en sakeondernemings hê nie,” het Creecy gesê.

Volgens haar het Merafong ooreengekom om die uitstaande bedrag van R170 miljoen oor 36 maande af betaal. Deel van dié ooreenkoms is dat die munisipaliteit R16 miljoen aan die einde van die maand oorbetaal en ooreenkom om alle rekeninge in die toekoms betyds te vereffen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.