Nóg ʼn geldwa in Gauteng geteiken

Skade aan die veiligheidsvoertuig. Foto: Verskaf

ʼn Veiligheidswag is Woensdagaand in Johannesburg geskiet in ʼn beweerde poging om ʼn geldwa te beroof.

Annine Siddall, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het omstreeks 19:00 op die N3-snelweg naby die Marlboro-afrit plaasgevind.

“Met ons aankoms op die toneel, was paramedici van ʼn ander ambulansdiens besig om na die veiligheidswag om te sien. Die man het geringe wonde aan sy arm opgedoen. Drie ander wagte, tussen die ouderdom van 20 en 50, het nie beserings opgedoen nie,” het Siddall gesê.

Siddall het gesê twee van die wagte het in die geldwa gery en twee van die mans was in ʼn veiligheidsvoertuig toe daar op hulle losgebrand is.

Na wat verneem word, het die verdagtes van die toneel gevlug en was die roofpoging onsuksesvol.

Die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel en was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Maroela Media het vroeër berig nóg ʼn transitorooftog het Maandagoggend in die provinsie plaasgevind. Dié soveelste voorval in die onlangse vlaag transitorooftogte het omstreeks 10:00 by die Jabulani-winkelsentrum in Soweto plaasgevind.

Die voorval kom slegs ʼn dag nadat ʼn Fidelity-geldwa Sondag by die Southdale Mall in die suide van Johannesburg geteiken is. “Daar word beweer dat ʼn Fidelity-geldwa geparkeer gestaan het met een veiligheidswag in Shoprite terwyl die ander een by die wa gewag het. Dit is toe dat die gewapende aanvallers hom [die wag by die voertuig] nader en dwing om die geld aan hulle te oorhandig,” het kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, vroeër gesê.

Slegs drie dae vantevore is ʼn G4S-geldwa op die N4 in Silverton in Pretoria tussen Watermeyerstraat en Simon Vermootenweg beroof. Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het verlede week bevestig dat twee veiligheidswagte van die G4S-voertuig aangeval is, gering beseer en na die hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.

Skote het ook verlede Donderdag in Boksburg geklap toe ʼn groep swaar gewapende verdagtes op nog twee geldwaens aan die Oos-Rand toegeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

pbotha ·

Beveilig die personeel en geld dmv weermaglede. Bewapen hulle en bemagtig hulle om maksimum geweld te gebruik in geval van n rooftog. Hier is enorme sindikate aan die werk…wis hulle eenvoudig uit.

Anoniem ·

Hoe meer geldwaens word, hoe meer protesaksies is daar. Nou wonder mens maar, wie bemagtig wie om wat te doen, nê? ;-)

Anoniem ·

Goed georganiseerde “fondsinsameling” om verdere anargie te bemagtig.

peet van breda ·

Is weer verkiessing tyd en die partye benodig bevondsing.

Se maar net ·

Ne! Ek is so bly ek is nie die enigste een wat die antwoord van 1+1 ken nie

Se maar net ·

2019 = Verkiesing = geldwarooftogte ??? In ag genome wat vorige jare gebeur het. Ek wonder maar net

Elsa ·

Begeleiding en ongemerkte geldwaens, wie dink nie? ondersoek optel punte….waar is regering? ietys moet gedoen word, mense sterf en skelms loop rond en vry…

Sophia ·

In die verlede was dit altyd so dat indien ‘n geldkas oopgeskiet of opgeblaas word, ‘n tipe verfsproei die geld gemerk het en daar niks mee gedoen kon word nie… Wat het daarvan geword?

Diane ·

Presies jy noem dit ‘n DYE PACK, hoekom kan dit nie in die geldwa en in elke krat aangebring word nie? ALLE geld wat gesprei is is onbruikbaar .. Mense probeer vir hulle slim hou .. maar dit is die ENIGSTE oplossing.

lee ·

ONSUKSESVOLLE transitoroofpoging ??
Hierdie geval klink vir my na ‘n copy-cat poging ?
Hulle stuit mos vir niks nie, wat sou hier die rede gewees het?

Koos B ·

Hulle mag nie gemerkte geld vir die verkiesing gebruik nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.