Nóg ʼn gewapende roof by Gauteng-winkelsentrum

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Veiligheidsbeampte is Donderdagaand by die Glen-winkelsentrum in Johannesburg geskiet en gewond toe sewe gewapende mans op die iStore-winkel toegeslaan het.

Die verdagtes het met ʼn onbekende aantal elektroniese ware gevlug.

Kaptein Tsekiso Mofokeng, ʼn Gautengse polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die rooftog het die aand omstreeks 20:00 plaasgevind. “Sover ons weet is slegs die veiligheidsbeampte gewond,” het Mofokeng gesê.

Hy het bevestig dit is die tweede soortgelyke voorval vandeesmaand waar selfoonwinkels in gewilde winkelsentrums beroof word. Maroela Media het verlede maand ook oor ʼn aantal soortgelyke rooftogte in Pretoria berig.

Die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap om paraat te wees as hulle winkelsentrums besoek. “Die gemeenskap moet dadelik die polisie bel as hulle onraad vermoed,” het Mofokeng bygevoeg. Hy het gemaan dat die publiek nie self verdagtes moet nader nie.

Niemand is nog in verband met die voorval by die Glen-winkelsentrum in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek sake van besigheidsroof en poging tot moord. Enigiemand met verdere inligting word versoek om die polisie te kontak deur ʼn SMS aan 32211 te stuur, of Crime Stop by 086 001 0111 te skakel.

Lees ook:
Bejaarde man geskiet tydens Cresta-rooftog
Vierde Pretoria-selfoonwinkel binne een maand beroof
Centurion Mall: Nóg ʼn selfoonwinkel in PTA beroof
Rooftog by Centurion Mall
Nog ‘n PTA-winkelsentrum beroof
Rowers slaan toe op PTA-winkelsentrum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.