Nog ’n gewelddadige huisroof in Theescombe

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Ma en dogter is Saterdag in Theescombe, Gqeberha (Port Elizabeth) aangeval en beroof.

Dit is die soveelste voorval in die gebied die afgelope jaar.

Volgens kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het drie gewapende verdagtes om 21:49 Saterdagaand deur ’n skuifdeur toegang tot die huis gekry. Die ma (51) het reeds geslaap en die 12-jarige dogter het televisie gekyk.

“Die verdagtes het die vuurwapen op die dogter gerig en haar beveel om stil te bly. Twee van die verdagtes het haar ma gaan wakker maak.” Volgens Janse van Rensburg kon die dogter daarin slaag om van die verdagtes weg te kom waarna sy die paniekknoppie gedruk het.

Die verdagtes het intussen geld en juweliersware van die ma geëis. Sy het geweier, waarna ’n skoot afgevuur is wat haar skrams in die kop getref het. Die verdagtes het met ’n skootrekenaar, selfoon, motorsleutels en juweliersware op die vlug geslaan.

Dit volg net ’n week nadat ʼn gesin op hul kleinhoewe in Theescombe oorval is. Die verdagtes het ʼn skoot afgevuur wat ʼn glasdeur in hul televisiekamer gebreek het. Die gesin het verlede Saterdagaand om 22:50 televisie gekyk toe een van die slagoffers ʼn onbekende man met ʼn balaklawa by die glasdeur opgemerk het.

Terwyl die vrou haar man gewaarsku het, het die verdagte ʼn skoot afgevuur wat die glas gebreek het. Die aangrensende glasvenster het ook met die trefslag gebreek. Die drie verdagtes het die gesin beveel om op die vloer te lê, terwyl hulle vasgemaak is.

Die mans het die huis deursoek en ʼn .38-rewolwer, juweliersware, ʼn beursie, kontant, drie selfone en ʼn skootrekenaar gebuit. Hulle het deur die gebreekte deur ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Enige arrestasies? Twyfel sterk en steeds loop die misdadigers met hulle onwettige wapens rond!

Blomme ·

Gaan dit dan nooit eindig nie. Is mens regtig nie meer in jou huis veilig nie? Die skurke is dan nou in beheer. Die regering het beheer verloor soos dit vir my lyk. En steeds is ons president doodstil oor die geweld.

[email protected] ·

PE het nogal n goeie buurtwag, hoekom skerp hulle dit nie op in daai area nie. Maroela het gister n article gehad van iemand wat wettige gas wapens verkoop. Kry dit en gebruik dit

Mariana ·

Dieselfde kriminele? Mense moet als doen om hulself te beveilig.

Harley Davidson ·

Dit is die nagevolge van ‘n totale afwesigheid van polisie wat misdaad moet bekamp en verhoed deur misdaad voorkoming operasies soos,stop en deursoek,patrollie ry in die woonbuurt en inligting opvolging.

Wesie ·

Tragies my hart gaan uit na hulle. Dit sal nooit eindig nie. Ons vra net vir God se genade vir al hierdie geweld haat en wetteloosheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.