Nog ’n groot daling in brandstofpryse voorspel

(Argieffoto)

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners weens die landwye staat van afsondering steeds met Jan Tuisbly se karretjie ry, is daar minstens goeie nuus in die vooruitsig vir diegene wat wel hul voertuie se brandstoftenks moet vul.

Die Outomobiel Assosiasie (AA) voorspel ʼn daling van R1,74 per liter in die prys van petrol en ʼn daling van R1,56 per liter in die prys van diesel volgende maand. Die prys van paraffien gaan na verwagting met ʼn allemintige R2,18 per liter daal.

Dit sal beteken dat die prys van 93 oktaan petrol sedert Januarie met R3,84 gedaal het, die prys van 95-oktaan met R4, 00 en die prys van diesel met R3,49.

Die prys van brandstof was volgens die AA in Julie 2017 minder as R13 per liter. In Maart 2016 het petrol R11,74 per liter gekos. ʼn Maand later het die prys tot R12,62 gestyg.

Die AA sê die syfers wat nou voorspel word, gaan die brandstofprys op vlakke te staan bring wat vyf jaar gelede laas gesien is.

Die enorme dalings in brandstofverbruik vandeesmaand gaan ook ʼn beduidende daling in die inkomste wat uit die brandstofheffing verdien word tot gevolg hê. Sowat 25% van elke liter brandstof waarvoor betaal word, gaan na dié heffing.

Die AA sê die regering het in dié tyd tussen R6 miljard en R7 miljard aan inkomste verloor.

Die organisasie sê die daling gaan selfs groter druk op brandstofhandelaars plaas.

“Baie handelaars maak op winkelverkope staat om hul inkomste ʼn hupstoot te gee, maar dit sou sekerlik ook aansienlik gedaal het weens die landwye afsonderingstydperk. Die marges op brandstof is laag en brandstofverbruik het getuimel en ons dink baie handelaars gaan sukkel om vorentoe lewensvatbaar te bly,” het die AA gesê.

Die organisasie sê dit is amper onmoontlik om te voorspel wat volgende in die brandstofmark gaan gebeur. Sou die huidige neiging egter voortduur en oliepryse aanhou val, kan die prys by die vulstasie een word wat ʼn dekade of wat laas gesien is.

“As die aanvraag egter skielik toeneem, kan die teenoorgestelde gebeur en pryse kan opskiet, hoewel van ʼn veel laer basis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

twaalfboor ·

Ja AA. Wat julle nie sê nie is hoe die “winkels” by die vulstasies mense uitbyt met hul belaglike pryse nie. Mens betaal meer vir melk per liter as vir petrol. Dan praat ek nie eers van die koeldrank en ander goed nie. Mens stop net om brandstof te gooi en ry dan weer. Net te duur om ietsie by die winkel vir die keel of honger maag te koop.

Piet parys ·

Die regering het nie minder gekry nie hulle kry altyd te veel want hulle doen niks vir niemand met die petrol heffing wat hulle elke jaar belaglik verhoog nie. VERBRUIKER Net n melk koei vir die regering . Brandstof pryse moet gehalveer word …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.