Nóg ʼn hittegolf vir Gauteng

Argieffoto

Gautengers kan hulself gereed maak vir nóg ’n hittegolf met temperature wat Dinsdag ʼn maksimum van 37 °C in dié provinsie sal bereik.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal temperature Dinsdag na verwagting 35 °C in Johannesburg bereik, 36 °C in Vereeniging en 37 °C in Pretoria. Dit volg nadat temperature Maandagmiddag begin toeneem het.

Die SAWD het reeds oor die naweek gewaarsku dat Gauteng asook Limpopo ’n hittegolf vandeesweek kan verwag. Temperature sal na verwagting van Woensdag ietwat begin daal hoewel dit steeds baie warm sal wees.

Dié hittegolf is die derde van sy soort sedert die aanbreek van die lente-somerseisoen. Sowat drie weke gelede het die kwik gestyg tot 41° C in Upington, 40 °C in Beaufort-Wes en Graaff-Reinet, 39 °C in Rustenburg en 35 °C in Pretoria.

Die weerdiens moedig inwoners aan om genoeg water te drink en beskermende klere in die buitelug te dra aangesien hitte van dié aard hittekrampe, uitputting en selfs beroerte kan veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.