Nog ʼn hittegolf vir SA

Argieffoto

Landsburgers kan hulle staal vir nóg ʼn hittegolf wat verskeie provinsies in Suid-Afrika vandeesweek sal tref.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het op Twitter ʼn kennisgewing uitgereik wat meld dat plekke in die Noordwes, die Vrystaat en die noordoostelike dele van die Noord-Kaap tot Vrydag deur ʼn hittegolf geraak sal word.

Gauteng en die westelike bosveld van Limpopo word net tot vandag nog deur die hittegolf geraak. Johannesburg en Vereeniging sal Maandag 35 °C bereik terwyl Pretoria tot 37 °C sal klim.

Potchefstroom sal môre 34 °C en Bloemfontein 35 °C bereik. Kimberley in die Noord-Kaap sal Dinsdag tot 37 °C styg.

Die SAWD het ook gewaarsku teen swaar donderstorms wat die oostelike dele van die Vrystaat en westelike dele van KwaZulu-Natal Maandagmiddag sal tref. Swaar donderstorms sal Dinsdag in die sentrale en westelike dele van die Vrystaat, suidelike Noordwes, oostelike dele van die Noord-Kaap en die noordoostelike dele van die Oos-Kaap voorkom.

Wayne Venter, weervoorspeller by die SAWD, het vroeër aan Maroela Media verduidelik dat elke weerstasie ʼn hittedrempel het. “Vir ʼn weerstoestand om as ʼn hittegolf geklassifiseer te word, moet daar vir drie agtereenvolgende dae daardie hoë temperature verwag word.”

Volgens Venter word hittegolwe deur hoëdrukstelsels veroorsaak. “Dit is basies dalende lug. Dit is ʼn lugkolom wat vorm bo ʼn sekere gebied en daardie lug daal dan neer en word warmer namate dit daal. Temperatuur styg met een graad vir elke kilometer wat dit daal.”

Die SAWD het inwoners aangemoedig om in die koelte te bly, sonskerm aan te wend en sonbrille en wyerandhoede in dié versengende hitte te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Martin ·

Kan die Weerburo miskien vir ons ‘n aanduiding gee van hoe die rês van die seisoen gaan lyk?

marianna ·

Ag ons het verlede woensdag 43 grade gehad vandag is die eerste dag dat ons bietjie
koeler weer het hier in McGregor in die weskaap

Koos ·

Janee ons ook hier in ashton weskaap was dit 46 grade…as dit 37 is soos more is dit eintlik koelerig…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.