Nóg ʼn hofbevel teen poskantoor oor MEDiPOS

(Foto: SA Poskantoor)

MEDiPOS, die mediese skema van die sukkelende Poskantoor, eis nou die agterstallige bydraes – wat die Poskantoor veronderstel was om aan hom oor te betaal – van lede wie se mediese fonds ieder geval die naweek opgeskort is.

Ria Sheehan se 80-jarige ma is een van dié mediesefondslede wat pas ʼn boodskap van MEDiPOS ontvang het dat sy aanspreeklik is vir R81 000 se agterstallige bydraes wat die Poskantoor die afgelope paar maande versuim het om oor te betaal.

“My ma is ʼn hartlyer. Sy gebruik chroniese medikasie. Wat doen ons nou? Jy sit nou net en niemand weet wat gaan aan nie. Daar is geen kommunikasie van die Poskantoor se kant af nie. Al wat die mense nou kry, is dreigbriewe van MEDiPOS. Dit is regtigwaar baie sleg.

“Ons weet nie wat om te doen of waarheen nou nie.

“Hierdie hele gedoente stres my ma geweldig uit. Ons probeer kalm bly vir haar onthalwe, maar dit voel of jy iemand kan te lyf gaan wat dit veroorsaak het… as jy net iemand in die hande kan kry,” sê Sheehan.

Haar ma en pa (wat vroeër oorlede is) het albei meer as drie dekades lank vir die Poskantoor in Noordwes gewerk. Sheehan sê nou bly oproepe na die Poskantoor se hoofkantoor onbeantwoord.

“Daar is ʼn doodse stilte van die Poskantoor se kant af.

“As ʼn mens net kan weet wat jy moet doen, veral die pensioenarisse. Baie van hulle het nie kinders wat hierdie goed namens hulle kan opvolg nie,” sê Sheehan.

Solidariteit het intussen nog ʼn oorwinning vir sy lede behaal nadat die arbeidshof in Johannesburg opnuut beslis het dat die Poskantoor die betrokke vakbondlede se agterstallige bydraes moet betaal om te verhoed dat hul voordele opgeskort word.

Solidariteit het vroeër ook ʼn bevel bekom wat die Poskantoor gedwing het om R3,3 miljoen in agterstallige bydraes van sy lede aan MEDiPOS oor te betaal. Dit is reeds gedoen.

Die hof het nou ʼn tussentydse bevel gemaak dat die Poskantoor die bykomende Solidariteit-lede wat hulle in die nuwe aansoek tot die hof gewend het, se agterstallige bydraes teen Vrydag moet betaal. Die bedrag beloop sowat R4,5 miljoen.

Die tussentydse uitspraak wat vereffening teen die einde van die week afdwing, is aanvullend tot die vorige uitspraak wat die betaling van R3 miljoen verseker het.

Die saak word later vandeesmaand hervat.

Solidariteit sê dit bly egter ʼn probleem dat staatsinstellings deurlopend versuim om ooreenkomste met werknemers na te kom.

“Hierdie jaarlikse hofgedinge om mense se mediese fondse en voordele waarvoor hulle gewerk het te beskerm, bly kommerwekkend. Die werklike kommer is egter werknemers en voormalige werknemers wat met honderde duisende rande in skuld gedompel word, omdat die Poskantoor nie sy verantwoordelikhede nagekom het nie,” sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit.

“Hierdie staatsentiteit, soos ander, is tot so ʼn mate toe wanbestuur dat geld wat afgetrek word van salarisse, spesifiek bedoel om oorbetaal te word, dit nooit uit die Poskantoor se bankrekening gemaak het nie.”

Van der Bijl sê dit lyk of die Poskantoor hom doof hou vir werkers se pleidooie terwyl hulle steier onder ʼn krisis. “Die instellings se “apatiese uitkyk” teenoor diegene waarvoor hy verantwoordelik is, is ʼn aanduiding van die staatsdiens se morele kompas.

“Die howe bly die enigste uitweg om die staat en sy entiteite verantwoordbaar te hou, en ons sal dit deurlopend doen. Hardwerkende mense verdien nie om uitgelewer te wees aan hulle omstandighede nie, maar hulle verdien wel geregtigheid. Die howe bied ons darem dit.”

Die Poskantoor het nog nie op navrae oor die jongste hofbevel gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Casper ·

Indien die ledegeld van lede verhaal word hoekom betaal die poskantoor dit nie oor aan MEDIPOS nie of verdwyn die geld.

Moedeloos ·

Ons kan dink wat daarmee gebeur maar mag dit nie hardop sê nie.

JJB ·

Ja-nee dit pas. Maak droog op ‘n planetêre skaal en as die spreekwoordelike pôpo die fên tref kruip ons grootoog weg…
Die Poskantoor… deel van die ANC se uitgebreide welsynsnetwerk vir comrades en familie.

hpven ·

Stel ‘n klasaksie in teen die werklike skuldiges naamlik die ANC en hul regime. Dit baat niks en niemand om die Poskantoor verantwoordelik te hou nie. Die probleme met instansies soos die Poskantoor, Eskom en ander is direk deur ANC kader aanstellings veroorsaak. Begin waar die probleme begin het. Dagvaar daardie persone ook in hul persoonlike hoedanigheid.

Henry ·

Is daar enige instansie wat onder anc beheer is wat nie bankrot is nie.

HJvdb ·

Die staat is baie gou om n privaat besigheid verantwoordbaar te hou as jy nie jou belasting verpligtinge nakom nie……ma sodra die staat vaal in sy vernatwoordelikheid is daar niemand om vernatwoordbaar te hou nie.

Soos deur die wet (staat) bepaal is dit bedrog vir n privaat besigheid om geld van salarisse af te trek en dit nie aan die betrokke instansie te betaal nie.

So duidelik hoe privaat instansies moet voldoen aan wette en reels maar die ANC hoof nie.

Frank ·

Die betrokke amptenate moet aangekla word van bedrog want dit is waarop dit neerkom, om geld af te trek maar dan nie oor te betaal nie.

Jack ·

Ek stel voor dat Medipos toemaak en dat al sy oudlede by GEMS aansluit.

Lurock ·

Daardie geld wat so kloksgewys van die lede verhaal is, het in ‘n GROOOOOOT swartgat, genaamd Staatskaping, verdwyn het soos mis voor die môreson. Kry die Valke om die minister, die DG, en al die Senior personeel hierby betrokke, te arresteer, voor die hof te kry, en laat daar beslag gelê word op hulle bates, sodat hulle familielede, en nie hulle nie, kan voel hoe die lede nou voel, oor die korrupsie en bedrog in die poskantoor. Al die instansies, soos Solidariteit, Agriforum, Sakekamer en menig ander moet die wêreld vir hierdie ongevoelige staatskapers hel maak tot alle geld betaal is.

Alfred E Neuman ·

Solidariteit en Afriforum. Die tyd is ryp om nou Luthuli huis direk te dagvaar, aangesien hulle verantwoordelik is/was vir die aanstelling van diewe op groot skaal.

Francois ·

Hulle beter maar ondersoeke by elke liewe departement doen. Ek is seker die ander haal dieselfde truuks uit.

Nie Verbaas ·

Die ANC weet hulle is onbevoeg maar in beheer wil hulle bly. Dit is presies wat gebeur as onbevoegde en korrupte hopeloses sake beheer. Geld val mos uit die lug uit.

Antie Sarie ·

As jy kyk hoe werk mediese fondse, klink dit amper soos n handboek beskrywing van n ponzi skema

Nel ·

My ma is in dieselfde boodjie. Wat julle ookal doen moet nie die geld betaal nie. Want die lidmaatskap geld is reeds deur die Poskantoor van jou ma se pensioen verhaal.

Nel ·

As ek hierdie berig reg lees sal diegene wat nou nog by Solidariteit aansluit se gelde oorbetaal word volgens die hovbevel. As dit waar is gaan ek definitief my ma help om vandag nog by Solidariteit aan te sluit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.