Nog ʼn hofbloutjie vir Zuma

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Oudpres. Jacob Zuma se aansoek om adv. Billy Downer as aanklaer in sy korrupsiesaak te laat verwyder, is Dinsdagoggend in die Pietermaritzburgse hooggeregshof van die hand gewys.

Zuma het die hofverrigtinge vandag self bygewoon.

Regter Piet Koen het bevind Zuma se aanvalle op Downer en sy pogings om hom as hoofaanklaer in die saak te laat verwyder, is grootliks bespiegelend en ten beste gegrond op ontoelaatbare hoorsêgetuienis.

Die hof het ook bevind Zuma het versuim om te bewys dat Downer nie die reg het om hom te vervolg nie.

Downer is die aanklaer in die saak waarin Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales teregstaan op aanklag van onder meer bedrog, korrupsie en rampokkery. Zuma word ook daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van Thales ontvang het.

Hy en Thales pleit onskuldig op die aanklagte teen hulle in ʼn saak wat al langer as 20 jaar sloer en vanjaar hervat is.

“Die bewering van vooroordeel teen mnr. Downer is grootliks gegrond op die feit dat hy glo nie onafhanklik en objektief was nie,” het die regter in sy uitspraak gesê.

“Gegrond op die getuienis voor my is dit nie bewys dat mnr. Zuma se reg op ʼn grondwetlik billike verhoor belemmer is nie, of dat daar ʼn werklike moontlikheid is dat sy regte belemmer sal word nie.”

Zuma het verlede week ook strafregtelike klagte teen Downer ingedien en beskuldig die aanklaer daarvan dat hy beëdigde verklarings met inligting oor sy gesondheid laat uitlek het. Die klag is by die polisiestasie in Pietermaritzburg ingedien waar ʼn handvol ondersteuners saamgedrom het. Zuma is deur een van sy dogters asook veiligheidspersoneel vergesel.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vandag ook aangedui hy is gereed om op 11 April volgende jaar met die saak teen Zuma voort te gaan.

Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, sê die owerheid hoop alle tussentydse bevele is teen daardie tyd afgehandel sodat die verhoor kan voortgaan.

“Ons wag lankal hiervoor. Ons wag lankal om ons eerste getuie in die getuiebank te plaas.

“Gelukkig het hulle reeds onskuldig gepleit, wat beteken die volgende stap is vir die staat om op 11 April sy getuienis te lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Hy is gesond as hy aankla en kan hofverrigtinge bywoon, maar as hy in beskuldigde bank moet sit, is hy te siek!!!

My tone krul van lekkerte nou, lekker bloedneus Zuma

JM

Die hele land is siek en sat van Zuma en sy gemors! Hy is soos ‘n kat op ‘n warm plaat, wat steeds probeer om vervolging te vermy. Nou is sy volgende verhoordatum 11 April 2022!! Kan daar waaragtig nie finaliteit met Zuma se saak bereik word nie?!

Jeff

Probeer weer zumpie. Miskien kry jy dit reg hierdie four seventy and ninety fifty million and twenty thirty fifth time. HEH HEH HEH

AW

Ekke Dog die man is siek …. Nou waarom sal n Siek man die hofsaak bywoon ???

Asgat

Kan iemand my asb. help verstaan, as hy nie sy tronkstraf nou kan uitdien nie omdat hy op mediese parool is…… wat maak dit dan saak of hy skuldig bevind word in die volgende saak…. verval die mediese parool dan?