Nog ʼn hupstoot vir droogteverligting in NK

Argieffoto

Agri SA het Donderdag Santam geloof vir die stewige geldskenking deur dié maatskappy om boere in droogtegeteisterde gebiede van die Noord-Kaap te help.

Volgens Agri SA het die droogte in Sutherland verwoestende gevolge vir die skaapboerderye ingehou en die dorp se ekonomie onder enorme druk geplaas.

“In die lig hiervan het Santam R300 000 aan die Agri SA-droogteverligtingsfonds geskenk waardeur gepoog word om verligting aan boere, plaaswerkers en die gemeenskap van Sutherland te bied,” het die landbou-organisasie gesê.

ʼn Gebrek aan reënval in die gebied sedert 2013 het daartoe gelei dat plase se boorgate opgedroog het, wat dit baie moeilik maak vir boere om hul skaapboerderye, die ruggraat van dié afgeleë plattelandse dorp, aan die gang te hou.

“Dit is hartverblydend om te sien hoe Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse maatskappye aanbied om ons skaapboere in hierdie baie moeilike tyd te ondersteun,” het Christo van der Rheede, Agri SA se adjunk- uitvoerende direkteur, gesê.

John Lomberg, Santam se hoof van korporatiewe maatskaplike belegging, het gesê die maatskappy ondersteun pogings wat Suid-Afrikaanse boere in staat stel om aan te hou boer sodat voedselsekuriteit en werksgeleenthede beskerm word.

Agri SA het sedert die stigting van sy droogteverligtingsfonds in 2015 reeds duisende kommersiële en opkomende boere en hul gemeenskappe met finansiële hulp, voer, water, brandstof en vervoer gehelp. Meer as R18 miljoen is sedert 2015 aan dié fonds geskenk.

Vanjaar het die gemeenskappe van Tosca, Griekwastad, Kenhardt, Willowmore, Aberdeen, Paterson, Hoopstad, Fraserburg en Jansenville al droogtehulp ontvang.

Agri SA sê hy werk ook nou saam met Gift of the Givers, Caring Daisies, Save the Sheep Sutherland, asook verskeie landbou-organisasie en individue om droogteverligting aan boere en hul werkers te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsa ·

Dankie Santam. Dis hoekom ek n lid is vir 44 jaar. Trots op julle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.