Nog ʼn kampus sluit weens betogings; minister gaan media toespreek

Foto: Twitter

Foto: Twitter

ʼn Derde universiteit is Maandag weens betogende studente gesluit.

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het Maandag gesê alle bedrywighede en akademiese aktiwiteite op die kampus is tot verdere kennisgewing gestaak weens betogings deur studente en werknemers.

“Alle lesings, akademie en ander bedrywighede op die boonste, middelste en onderste kampus is vir die dag gestaak,” het Gerda Kruger, woordvoerder van die universiteit, gesê. Kruger het gesê die universiteit se Hiddingh-kampus, gesondheidswetenskappe-kampus en nagraadse besigheidskool sal oop bly.

“Die besluit is geneem nadat verskeie ingangsroetes na die universiteit deur betogers afgesper is. Dit het personeel en studente verhoed om by hul klasse en kantore uit te kom.” Kruger het gesê die universiteit beskou die betogingsaksie as ʼn bedreiging vir die veiligheid van studente en personeel en wil die res van die dag daarop fokus om bedrywighede by die universiteit te laat terugkeer na normaal.

Volgens Kruger is die betogingsaksie onwettig en onaanvaarbaar. “Die optrede van die betogers verhoed die werk van die instansie om voort te gaan. Hul optrede verhoed ook dat ander hul reg tot onderrig kan uitoefen.” Sy het gesê die universiteit het ʼn diepe respek vir betoging en het nog nooit ʼn student aangekla wat aan betogings deelneem nie, maar het bygevoeg dat die inmenging van die regte van ander studente nie aanvaarbaar is nie.

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Kruger het gesê prof. Francis Petersen, visekanselier, was besig om met die studente te praat. Die studente is glo ongelukkig oor die universiteit se fooistruktuur asook die feit dat dienste by verskeie kampusse uitbestee word.

Die Rhodes Universiteit moes Maandag ook noodgedwonge alle akademiese aktiwiteite op die kampus staak nadat meer as 100 betogende studente die kampus tot stilstand gedwing het. Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) was ook vir die grootste deel van verlede week gesluit weens betogings op die kampus.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en onderrig, het gesê ʼn dringende mediakonferensie sal Maandagmiddag gehou word waartydens hy op studente se eise sal reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

pop ·

Kerm heeldag oor geleerdheid maar dan staak hulle. Om die cherry op die koek te sit wil hulle nou afrikaanse instansies ook inneem. Om wat te maak? Ook te staak.

Sarel Strydom ·

Wat verwag die Bestuur van hierdie Universiteite. daar word dan elke keer aan die geweldenaars se eise toegegee.

nico ·

Minister jy moet vinnig n oplossing kry of jy gaan in die pad gesteek word of pak die skuld op apartheid en die land is weer sharp

neelsie ·

Hoekom net voor eksamens?
Die uitgesproke minister het altyd sy mond uit te spoel oor die Afrikaner.
Ons sal sien hoe gou hy die saak oplos.
Sal weer die belastinggeld gebruik as subsidie.
Ons betaal maar altyd.
Dis tyd dat ons geld vir ons eie bestee word.

Pierre Celliers ·

Dis eenvoudig lekkerder om te staak as om te leer van dinge wat hul niks van verstaan nie en ergste van alles, hul kennis word getoets deur vervloekte eksamens. Hulle hou daarvan om te se hulle is op universiteit maar neem asb die eksamens weg!

Winston ·

Totale anargie. Dis die doel. Nie gelde en taal nie. Dis goed op dreef.

DG ·

Soveel droogmakers, so min dissepline toepassers. Dit lyk of enige iemand ‘n “tantrum” kan gooi dan moet die res net spring. Ons beloon hierdie soort wangedrag met ‘n lamsakkige houding. Droogmakers moet strenger hanteer word.

Schalk Hugo ·

Baie jammer om te sien! Oor ‘n paar jaar sal Suid – Afrikaanse kwalifikasies nie veel werd wees nie; weens sulke gedrag. Dit raak die norm as jy nie kry wat jy wil he nie, dan stop jy dit vir almal…

Hugo D ·

Ek sien hulle sing Skiet die Boer…maar News24 se hulle sing “shoot shoot” dink hulle ons is dom, ons ken die woorde van daai haatspraak lied, die hoofstroom media berig eerder oor Steve wat die Stem sing? Maak my naar!

Bets Bothma ·

Die haat van swart na wit en Afrikaans is so massief, ek weet nie hoe dit ooit genees gaan word nie. Kan studente wat WIL swot en eksamens skryf nie op ander plekke geakkommodeer word nie? Het hierdie stakende studente nog nooit hul verstand gebruik en besef as ons staatsdiens nie so korrup is en so baie geld mors nie, die geld dalk aan onderwys spandeer kon word en dan was fooie nie so hoog nie! Staak teen regering!

Louis ·

Ek wonder wat is dan verkeerd met die studente by Potch se NWU kampus, hoekom betoog hulle ook nie net voor die eksamens nie? Seker maar deur die jaar klas geloop, opgelet en geleer, so hulle is gereed vir die eksamen.

Poplap ·

Kyk mooi na die foto’s en beeldmateriaal. Wit en swart staak en protesteer saam. Hulle het ‘n punt beet. Universiteitsfooie is buitensporig hoog. Hoe hulle die ding aanpak is nie die regte manier nie, maar ek kan verstaan dat die kinders kwaad is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.