Nóg ʼn Kersfees sonder haar seun

Coleen en John Bothma. (Foto: Verskaf)

“Ek sal enigiets gee om weer ʼn Kersete saam met my man, dogter en John te hê.”

Só vertel ʼn emosionele Coleen Bothma wat op 15 Mei verlede jaar vir die laaste keer met haar seun oor die telefoon gepraat het. “Mens moet elke dag, en veral in hierdie tyd, jou familie waardeer.”

John Bothma, toe 22 jaar oud, het in Mei verlede jaar spoorloos in Viëtnam verdwyn tydens ʼn besoek aan die stad Ho Chi Minh. John was reeds ses maande lank ʼn onderwyser in dié land ten tyde van sy verdwyning.

“Ek bid elke aand dat as hy nog lewe, hy net kos en ʼn slaapplek het.

“Daar is ʼn foto van John op my dogter se yskas, so my kleinseun sal gereeld vra ‘waar is John, is John weg?’ en dan wil ek in trane uitbars. Om nie te weet waar hy is of wat met hom gebeur het nie, is baie erg.”

Coleen probeer om elke tweede dag met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Interpol en Gift of the Givers kontak te maak, maar dat sy aangesê is om geduldig te wees omdat die Covid-19-pandemie die proses vertraag. Ander partye het intussen ook aangebied om hulp te verleen, maar sy het nog niks weer gehoor nie.

Mushfiq Daniels. (Foto: Facebook)

“As hulle wil help, moet hulle asseblief ook vir Faheema en haar familie help,” sê sy.

Coleen en Faheema Daniels, ma van Mushfiq Daniels (28) wat etlike weke ná John in Ho Chi Minh in Viëtnam verdwyn het, praat minstens drie keer ʼn week met mekaar.

“Sy wil ook teruggaan Viëtnam toe om self te soek. As hulle ons nie wil help nie, dan wil ons dit self doen.”

Die hartgebroke ma’s beplan om volgende jaar die Suid-Afrikaanse en Viëtnamese ambassades in Pretoria te besoek en daar te wag totdat hulle antwoorde kry. Hulle hoop ook om dan die finansies te hê om Viëtnam weer te besoek.

“Ons soek net antwoorde.”

Ten spyte van die vertragings in haar seun en Mushfiq se ondersoeke sê Coleen dat haar vertroue steeds in die Here bly en dat sy tydens John se verjaarsdag en Kersfees nuwe hoop van Hom ontvang.

“Sonder Jesus sou ek dit nie hierdeur gemaak het nie. Hy is my rots.”

Haar werksvriende is ook ʼn bron van troos, sê sy. “As hulle sien dit gaan swaar, gee hulle my ʼn stywe drukkie. Hulle inspireer my ook om aan te hou lief hê en ander mense te help.”

Een van John se hoërskoolvriendinne het ʼn tekening van hom vir Coleen gegee wat sy daagliks bewonder.

“Elke keer as ek daarna kyk, dink ek: een van die dae gaan ons jou kry.”

‘n Tekening van John. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.