Nóg ʼn kind beland in bendekruisvuur

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Kleuter is Dinsdag in Helenvale in Port Elizabeth raakgeskiet toe hy in die kruisvuur van twee bendes beland het.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê die driejarige seuntjie was saam met sy pa in hul erf in Martinstraat toe twee bendes kort ná 14:00 op mekaar in dié straat losbrand.

Die kleuter is gedurende die skietery in sy bolyf getref waarna hy na ʼn hospitaal gehaas is, het Soci gesê.

Dié voorval volg enkele dae ná ʼn 12-jarige meisie in Bloemendal in Bethelsdorp doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig Alvineesha Brookes (12) het Saterdag omstreeks 20:30 in Buysstraat in Bloemendal geloop toe sy in die kruisvuur van twee bendes, die Carlitos en die Hondekoppe, beland het. Sy het ʼn skietwond in die kop opgedoen, het kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die ontstoke gemeenskap het dadelik na ʼn vermeende bendelid se huis in Bardienstraat opgeruk. Die persoon was nie by die huis nie en hulle het twee ander mense aangerand wat wel by die huis was,” het Naidu gesê. “Hulle is met klippe bestook en met skerp voorwerpe gesteek.”

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die jongste voorval ten sterkste veroordeel.

Nshinga het in die verklaring gesê die polisie sal nie rus voordat die skuldiges aan die pen ry nie. ʼn 72-uur-aktiveringsplan is gevolglik van stapel gestuur om diegene wat die kleuter geskiet het op te spoor.

Die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap van Helenvale om egter nié die reg in eie hande te neem nie en die skuldiges by die polisie aan te meld. Enige inligting rakende die voorval kan by speursers. Neville Gouws van die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid (Bende-ondersoeke) by 082 387 5904 aangemeld word.

ʼn Saak van poging tot moord is Dinsdag ná die skietery aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

sweis ·

Almal se lewens is nou in gevaar staak die polisie of weier hulle om iets te doen.

jakes ·

Ja ons polisie staan agter die bends, want die bends het meer mag as die polisie.

willem Botha ·

Dit het tyd geword vir n klassaksie ,mense se reg tot veiligheid word ontneem deur n bende in blou uniforms wat hulself polisie noem en weier om aan hulle mandaat te voldoen .

Santjie ·

Doen dan julle werk en sorteer die bendes uit!! Genade, dit laat my dink aan toe ons klein was, toe ons “cowboys en crooks” gespeel het met speelgoed gewere. Nou speel vandag se “kinders” dit nie meer nie, dit word nou letterlik gedoen! Weet ook nie of, al is van die lede seker nog minderjarig, ‘n mens hulle nog kinders kan noem nie! Ek neem aan die kleuter lewe nog. Sterkte aan die ouers.

Ra Amon Khan ·

.
.

Ek wens elke God-vresende persoon in die land wil vir hulself n vuurwapen kry vir self-verdediging….dit is nog wettig, beskerm jou en jou familie,maak nie saak of jy blou,rooi,lig-pienk of donker-pers is nie…jy het die reg en voorreg om n vuurwapen te besit….ek en my vrou het ons vuurwapens gekry na ons aansoek in Oktober2018….kry julle s’n….dis maklik, wees veilig, wees bedagsaam…..en ken God die Skepper in al jou wee.

.
.

Sheppie ·

Die staat is nie meer in beheer nie. Die polisie staan en kyk, maar is te bang om iets te doen, want die krimineel word deur die regstelsel beskerm. Die staat se gesag word uitgetart, daarom doen bendes net wat hulle wil. Ook die witboordjie bendes wat die staat kaap en omkoopgeld betaal aan korrupte ministers! Gee die regering om wat bendes doen? Dit lyk nie so nie!

Boerboel ·

Gebruik die weermag om die plekke op te ruim van bendes, hulle sit en niks doen.

nonsens ·

dit is NONSENS
onskuldige mense veral arme kinders word altyd na gekom in hierdie land waar mense so gou weg kom met misdaad

? leser ·

polisie julle ken die bende leiers, roep hulle vir verantwoording, moenie worry oor die een wat die sneller getrek het nie, die bende leiers sal die skieter vinnig uitwys, as hy in die tronk sit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.