Nog ’n kind deur pitbulls doodgebyt

Argieffoto

Nóg ‘n kind is deur pitbulls verskeur – die tweede kind in net meer as ‘n week wat dié lot oorgekom het.

’n Driejarige seuntjie is Sondag in Hennenman in die Vrystaat deur twee pitbulls verskeur. Die voorval het omstreeks 09:30 in Sekoti-Mpate plaasgevind en volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, moes die polisie ingryp nadat woedende gemeenskapslede reg in eie hande begin neem het.

Een van die honde is deur gemeenskapslede doodgemaak en verbrand. Die Virginia‑dierebeskermingsvereniging (DBV) het bevestig dat die ander hond van die toneel verwyder en van kant gemaak is.

Volgens Thakeng is die situasie in die gemeenskap gespanne maar onder beheer. Lede van die polisie se openbare orde-eenheid is in die gebied ontplooi. ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Die voorval volg nadat Olebogeng Mosime van Vistapark in Bloemfontein op 12 November deur die bure se pitbull doodgebyt is nadat die hond glo uit die erf ontsnap en oor hul heining gespring het. Die hond is op die toneel deur polisiebeamptes doodgeskiet.

Die DBV in Bloemfontein het na laasgenoemde voorval ʼn pleidooi aan honde-eienaars gerig om eerder afstand te doen van enige honde wat aggressief is en moontlik ʼn gevaar vir die gemeenskap kan inhou.

Tientalle honde, waaronder pitbulls, is na die noodlottige aanval by die DBV in Bloemfontein, en ook ander skuilings in die land, afgegee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.