Nog ’n kind in die Paarl vermoor

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

’n 10-jarige meisie is vroeër die maand glo deur ’n familielid in die Paarl vermoor en haar liggaam in ’n trommel versteek.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat ’n 18-jarige verdagte homself aan die polisie oorgegee het en reeds op 9 Januarie – drie dae ná die moord – in die plaaslike landdroshof verskyn het. Die saak is tot Vrydag vir verdere ondersoek uitgestel.

Die drukgroep Action Society sê klein Lihle Zenzile is by haar huis in Mbekweni vermoor. Die verdagte het aanvanklik aangevoer dat hy nie weet waar die meisie is nie, maar het polisie later na die trommel geneem waarin hy Lihle se liggaam weggesteek het. Die oorsaak van haar dood is nie in dié stadium bekend nie, ook nie die verwantskap tussen die slagoffer en vermeende moordenaar nie.

Die kind se ma, Julia, het aan Action Society gesê sy verkeer steeds in ongeloof oor wat met haar dogter gebeur het.

“Ek kan nie glo my kind is weg nie. Ek het twee familielede verloor – dit breek my hart.”

Lihle sou vanjaar in gr. 5 gewees het – iets waarna sy baie uitgesien het.

“Dis baie emosioneel om te sien hoe ander ouers vir skool voorberei, asook skryfbehoeftes en skoolgoed koop. Dit laat my huil, want ek weet ek sal nooit weer my kind kan aantrek en skool toe neem nie,” het Julia gesê.

Lihle is die tweede meisie wat in die afgelope paar maande in die Paarl vermoor is.

Klein Mia Botha (4) is in September verlede jaar vermoor en die saak is steeds nie opgelos nie.

Twee verdagtes is in hegtenis geneem, maar later weer vrygelaat.

Ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het egter destyds aan Maroela Media gesê die polisie kan geen inligting oor die omstandighede rakende die ondersoek bekend maak nie, aangesien die ondersoek in ʼn sensitiewe stadium is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kensy ·

SO ON-NODIG!
Jammer aan al die familie!
Was daar al ooit n studie gedoen oor die verband tussen sulke onsinige moorde en drank/dwelmverslawing?
Dit behoort baie interessante leesstof te wees.
Ek is van mening dat dit n beduidende rol speel.

Eugene ·

So sal dit net aangaan. Cowboy en die prez laat toe dat dit gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.