Nóg ʼn klag teen Kusile-beskuldigde

Maphoko Kgomoeswana (Foto: NVG)

ʼn Bykomende klag van belastingontduiking is teen ʼn sakeman van Limpopo, wat by korrupsie van miljoene rande by Eskom betrek word, aanhangig gemaak.

Maphoko Kgomoeswana het Donderdag vlugtig in die Pretoriase streekhof verskyn op die bykomende klag van belastingontduiking van R5 miljoen.

Sindisiwe Twala, ʼn woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, het gesê dit het tydens die ondersoek na die beweerde bedrog by Eskom aan die lig gekom dat Kgomoeswana en sy maatskappy, Babinatlou Business Services CC, glo tussen 2016 en 2018 belasting ontduik het. Die saak is voorlopig tot 15 April uitgestel.

Kgomoeswana het Dinsdag saam met Abram Masango, ʼn voormalige uitvoerende groephoof in Eskom se kapitaalafdeling; France Hlakudi, ʼn voormalige kontraktebestuurder by Eskom; en Antonio Trindade, uitvoerende hoof van Tubular Construction, in die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof hof verskyn onder meer op aanklag van geldwassery, bedrog, korrupsie, asook dat hulle ongemagtigde betalings gedoen en ontvang het.

Maroela Media het vroeër berig hulle word daarvan beskuldig dat hulle tussen 2014 en 2017 bedrieglike betalings aan subkontrakteurs by die Kusile-kragsentrale gedoen het. Die korrupsie beloop sowat R745 miljoen.

Die vier is reeds vroeër op borgtog vrygelaat.

Die direktoraat het reeds formeel aansoek gedoen dat Michael Lomas, ʼn voormalige voorsitter van Tubular Construction wat tans in Brittanje woon, aan Suid-Afrika uitgelewer word en saam met sy vier medebeskuldigdes tereg staan, sê Twala.

Masango en Hlakudi word daarvan beskuldig dat hulle R30 miljoen elk van die kontrakteurs – Trindade en Lomas – ontvang het.

Kgomoeswana en sy maatskappy het glo die betaling van die omkoopgeld tussen die Kusile-kontrakteurs en die senior amptenare in die hand gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Vries hulle bankrekening en kry ‘n hofbevel om op hulle bates beslag te lê.Daardie geld kom escom toe.

Dirk Mostert ·

Tussen 2014 en 2017 en hulle verskyn nou eers in die hof. Die regstelsel is ‘n struikelblok vir wet en orde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.