Nog ʼn kouefront op pad

Foto: SA Weerdiens

Kapenaars kan Maandag weer koue, winderige en nat toestande verwag wanneer nog ʼn kouefront na verwagting sal tref.

Volgens die weerdiens bring die kouefront stormsterk winde van tussen 65 en 100 km/h en sal Tafelbaai, Valsbaai, Hermanus, Kaap Agulhas en omliggende gebiede die ergste deurloop. Onstuimige seetoestande sal na verwagting ook aan die Noord- en Wes-Kaapse kuslyn voorkom voor dit deur die loop van Maandag na die Oos-Kaap sal oorbeweeg.

Die stormsterk winde sal na verwagting ook oor dele van die Noord- en Oos-Kaap voorkom, asook langs die kus tussen Kaap Columbine en George voor dit teen die aand na Port Alfred se kant sal beweeg.

Rowwe seetoestande met golwe van tussen ses en nege meter word verwag tussen Lambertsbaai en Port Alfred met golwe van tussen nege en dertien meter tussen Slangkop en Port Alfred. Die kus tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai kan ook stormtoestande verwag wat tot skade aan infrastruktuur en erosie kan lei. Daar kan ook ontwrigting by hawens en strandfronte verwag word.

Verdere reënval kan waarskynlik tot oorstromings van paaie en informele nedersettings lei in veral die Kaapse Wynland, Kaapse Metropool en die westelike Overberg.

Die yskoue weerstoestande sal teen Dinsdag en Woensdag oor die res van die land beweeg. Daar word verwag dat minimumtemperature beduidend sal daal, met wydverspreide ryp wat vir Woensdagoggend oor die sentrale binneland, die noordelike gebiede van die Oos-Kaap, oostelike gebiede van die Noord-Kaap, uiterste suidelike gebiede van Noordwes en Gauteng, asook die Vrystaat verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

Koue,lockdown en loadshedding. Dit is mos nie so erg nie. O ja ek mag dalk nie eers sherrie koop nie

Cherokee ·

Selfs Durban se minimum temperature het enkel syfers bereik omgewing middernag, die afgelope dae. Nou is dit weer T-hemp weer.

Anel ·

Nou hoekom wil mense nog in die Kaap bly? Ek haat winter. Gelukkig het ons hier bo, in die ou Transvaal, droë winters. Ek weet nie wat ek sou gemaak het as dit nou nog nat winters hier ook gewees het nie. Soos dit nou is hiberneer ek, doen die minimum en net die nodigste. Skoon styf van die koue.

Baardman ·

Stem saam. Boere smag na reen. Vrugtebome en wingerde het koue nodig hierdie tyd van die jaar. Graan staan groen op die lande. BAIE DANKIE vir die koue fronte

Juls ·

Dis WINTER. As dit nou -5 is in die somer kan ek verstaan dat mense kla maar genade waarom al die gemoanery?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.