Nog ’n Kusile-eenheid in bedryf

Kusile-kragstasie Foto: Khulu Pasiwe (Eskom), Twitter

Die Kusile-kragstasie naby eMalahleni in Mpumalanga se tweede eenheid is vanaf vandag kommersieel in bedryf.

Dit beteken dat die eenheid ná 16 maande se toetsing eindelik aan Eskom se kragnetwerk gekoppel is en nou tot 800 MW tot die Suid-Afrikaanse kragnetwerk toevoeg.

Bheki Nxumalo, hoof van opwekking by Eskom, beskryf dit as ’n groot mylpaal wat dui op Eskom se vordering as deel van die Kusile-bouprojek. Die kragvoorsiener poog met dié projek om stabiliteit in die kragnetwerk en die veiligheid van elektrisiteitvoorsiening te verseker.

“Om kommersieel in bedryf te wees beteken daar is tegniese nakoming van die statutêre, veiligheid- en wetlike vereistes.”

Kusile se eerste eenheid is in 2017 aan die kragnetwerk gekoppel.

Volgens Nxumalo toon die konstruksie, toetsing en optimalisering van die vier oorblywende eenhede by Kusile boonop goeie vordering.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het verlede week gesê die kragvoorsiener het oor die afgelope agt maande hard gewerk aan die inwerkingstelling van veranderinge aan die Medupi- en Kusile-kragsentrale.

Kusile sal na verwagting in 2023 voltooi word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blikke ·

Is dit nie eerder 800MW nie? Sal nogal graag n 8000MW eenheid wil sien.

Megan Swart ·

Dagsê Blikke
Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Johann ·

En? Hoeveel jaar is die “projek” agterstallig? Hoeveel is die “projek” oor begroting? Hoeveel het die kaders geskep?

Daars NIKS om op trots te wees nie. NIKS om oor te spog nie. Net nog n skokkende bewys van die ANC LEGACY van mislukkings en onbevoegdheid.

Dries ·

Ja en intussen val die kragtorings die een na die ander om by Welkom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.