Nog ’n leerder amper ontvoer

(Argieffoto ter illustrasie.)

’n Gr. 12-leerder aan die Sandringham High School in Johannesburg is Vrydagoggend amper ontvoer terwyl sy op pad was skool toe.

Die voorval het naby die Lyndhurst Primary School plaasgevind terwyl die 18-jarige meisie skool toe gestap het.

Volgens die Gautengse onderwysdepartement het ’n wit Chevrolet met vier manlike insittendes op die meisie afgery en een van die gewapende mans het haar in die voertuig probeer intrek.

“Sy het geskreeu en kon daarin slaag om haar teë te sit. Haar gille het omstanders se aandag getrek en die verdagtes het van die toneel weggejaag,” het die departement gesê.

’n Personeellid, wat toevallig verby die toneel gery het, het die meisie skool toe geneem. ’n Saak is by die Sandringham-polisiestasie aanhangig gemaak en die meisie ontvang traumaberading.

Die leerder wat vroeër die week voor die Laerskool EP Baumann in Mayfair ontvoer is, is intussen steeds soek.

Die 11-jarige meisie het voor haar skool gewag om teen Covid-19 ontsmet te word toe drie mans haar met ʼn vuurwapen gedreig en ontvoer het.

Die skool het sedert die voorval sy veiligheidsmaatreëls opgeskerp en gevra dat leerders, ouers en voogde in dié tyd kop sal hou.

“Ons is geruk om van nog ’n poging tot ontvoering te hoor, maar is bly dat dit misluk het,” het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gesê.

Volgens Lesufi is daar Vrydag met skoolbeheerliggame vergader en ooreengekom dat maatreëls teen Covid-19, soos sanitering, met onmiddellike inwerkingtreding binne skoolterreine moet plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bertie ·

Lepufi hou vergaderings oor Covid-19 binne skoolterreine, terwyl ontvoerings buite skoolterreine besig is om ‘n al hoe groter probleem te word? Moet Afriforum nou eers weer vir hom oplossings uitdink?

Grassie ·

Dit pla my dat so min besonderhede van die slagoffers verskaf word in die beriggewing. Daar word nie ‘n beskrywing gegee van die meisie wat weg is nie. ‘n Mens wil weet watter meisies geteiken word, dit is belangrik. Is sy wit of swart of Asiër of kleurling. Wat is die ras van die ontvoerders. Dit is nie rassisme om daardie besonderhede te verstrek nie, ek glo alle ouers met skoolgaande dogters wil dit weet.

Perdeby ·

Lyk my hy lees die kommentare en het gesien, doen dit liewers BINNE die skoolterrein.

Harley Davidson ·

Waarom sulke vae inligting oor die vier mans,was hulle swart,wit Chinees,Indiër,Suid Afrika is ‘n diverse land met baie verskillende rasse ,lewens kan gespaar word as die media die publiek beter inlig.

Alta Alleman ·

Ouers leer asb jou kind om so hard as moontlik te gil as sy/hy in gevaar is.

JohanR ·

Kan skole nie soe reel dat ‘n seun skoliere altyd skool toe loop saam met ‘n meisie skoliere, of dat kinders altyd in ‘n groep skool toe loop en nooit alleen nie? Die gemors is oorals deesdae, en dan het ons ‘n meer as useless polisie minister!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.