Nóg ʼn leerder buite Pta-skool aangeval

Langenhoven High School in Pretoria (Foto; Langenhoven High School/Facebook)

Die veiligheid van leerders en onderwysers by die Langenhoven High School in Pretoria word bedreig ná nóg ʼn matrikulant aangeval en vier keer met ʼn skerp voorwerp gesteek is.

Die skolier is buite die skool aangeval.

“Sy is in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal,” sê Crezane Bosch, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng.

Die voorval kom ná verskeie voorvalle die afgelope drie jaar aangemeld is van leerders, onderwysers, veiligheidswagte en algemene werkers wat buite die skool aangeval en aangerand is.

“Die gevalle is by die Wonderboom- en Sentraal-polisiestasies aangemeld en tot dusver is daar nog steeds geen sigbare polisieteenwoordigheid rondom die skool om misdaad te voorkom en die veiligheid van die skool en die omliggende gemeenskap te verseker nie,” sê Bosch.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem in verband met enige van die voorvalle nie en niemand is tot dusver vervolg nie. “Dit blyk ook dat daar nie enige sekerheid is van watter polisiestasie verantwoordelik is vir die skool nie, aangesien dit oorkant die Pretoria-dieretuin geleë is, op die grens tussen Capital Park en Pretoria-Sentraal in wyk 58.”

Bosch sê ʼn skool en sy omgewing is veronderstel om ʼn veilige plek te wees waar kinders kan leer en speel sonder dat hulle vir hul lewens hoef te vrees.

“Die oortreders het hulself vermoedelik op die berg in Capital Park gevestig en hulle kan van daar hul slagoffers teiken. Dit lyk of hulle ook wegkruipplekke in die Apiesrivier gevind het langs die skool wat na Marabastad lei.”

Die kinders het graffiti gebruik om tekens op die loopvlak om die berg van die skool na Capital Park aan te dui sodat hulle mekaar kan waarsku dat dit ʼn misdaad-brandpunt is.

Die Demokratiese Alliansie het die gebied ondersoek en eis dat die departement van gemeenskapsveiligheid ʼn gesamentlike operasie van stapel sal stuur om die gebied rondom die berg en die Apiesrivierspruit te monitor en skoon te maak. “Die departement moet ook berede voetpad-patrollies tydens die week instel wanneer die skoliere op hul kwesbaarste is. Ons eis ook dringende ingryping deur die Gautengse departement van onderwys om die veiligheid van die skool en sy bates te verseker.”

Bosch sê die DA sal in die volgende week met die bestuur van die skool vergader om ʼn volledige lys van alle voorvalle te bekom. “Ons sal die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, en die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, nader met skriftelike voorstelle hoe om die probleem te takel.”

Sy sê die gewelddadigheid in die aanval op kinders en onderwysers in die gebied moet dringend aangespreek word voor daar enige lewensverlies is. “Dit kan nie só voortgaan nie. Die DA sal alles in sy vermoë doen om die gemeenskap by te staan en ʼn einde te bring aan die voortgesette geweld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.