Nog ʼn leerder van HTS Middelburg sterf

Stephan du Preez. Foto: Facebook

Nog ʼn leerder aan die Hoër Tegniese Skool Middelburg het onverwags gesterf kort nadat ʼn 16-jarige leerder van dié skool verlede week in ʼn motorongeluk oorlede is.

Die skool het Sondag op sy amptelike Facebook-blad bevestig Stephan du Preez, ʼn gr. 10-leerder, het aan ʼn hartaanval gesterf. “Aan sy ouers, Hettie en Tjokker, sy twee boeties, Jandré en Jaco, en die familie wil ons sterkte sê – julle is in ons gebede. Mag Jesus julle toevou in liefde en vertroosting,” het die inskrywing gelui. Meer besonderhede oor Stephan se afsterwe was nie onmiddellik bekend nie.

Stephan se pa, Tjokker du Preez, het Maandag in ʼn inskrywing op sy Facebook-blad geskryf dat mense tevrede moet wees met wat hulle in die lewe het, omdat geld nie geluk en gesondheid kan koop nie. “Die dood is seer, traumaties en absoluut finaal. Maak die beste van jou en jou geliefdes se genadetyd saam! Spandeer kwaliteit- en kwantiteittyd saam met diegene wat ʼn verskil in jou lewe en dit die moeite werd maak,” het hy geskryf.

Stephan se ma, Hettie, het in antwoord hierop haar man se woorde beaam. “Ek wens ons kan tyd terugdraai. My engelkind, ons verlang en mis jou baie. Ons is bitter lief vir jou my pannekoek.”

Talle boodskappe van medelye vir die Du Preez-gesin het op sosiale media ingestroom.

Maroela Media het vroeër berig Jandré van der Walt, ook ʼn leerder van HTS Middelburg, is verlede week in ʼn motorongeluk naby Ohrigstad in Limpopo dood. Jandré en sy vriendin, ook ʼn leerder aan die HTS Middelburg, was glo saam met Jandré se oupa op pad terug van ʼn jagtog toe die ongeluk gebeur het. Jandré se vriendin is in die ongeluk beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mel ·

So so hartseer, di dood het ni ouderdom ni, Jesus het nog ‘n pragtige blom kom pluk, mag Jesus jul omhels in liefde en mag jul vertroosting vind. Baie sterkte, RIV PRAG SEUN

Petro ·

Dis seker die waarste waar woorde wat ek nog gehoor het… ” dis so finaal”
Niks bring hulle terug nie. Sterkte vir julle. Mag God julle dra.

LS ·

So vreeslik jammer oor julle verlies.
Kan nie myself indink hoe julle voel op hierdie stadium nie, mag God julle hande styf vashou in hierdie moeilike tyd.

Liza101 ·

Vreeslik hartseer! #Rooiesdramekaar – Een skool, Een hart, Een hartseer!

Hannelie ·

Ons is so bitter jammer oor jul groot verlies. Mag jul die nodige vertroosting van God ontvang en jul hartseer ligter word want Hy is ons groot Vertrooster. Dink so aan julle as ouers.

Bestine Bezuidenkuit ·

Baie hartseer. Sterkte aan die familie. So onverwagse wyse vir ‘n jong man om te sterf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.