Nog ʼn leier verlaat DA-skip

Makashule Gana het Donderdag sy bedanking as DA-lid aangekondig. (Foto: Facebook)

Makashule Gana het die DA ná 20 jaar as partylid vaarwel toegeroep.

“Ek verlaat die DA, maar ek verlaat nie die politiek nie,” het Gana Donderdag aangekondig. Hy het ook as lid van die Gautengse wetgewer bedank.

“Ek bedank om aan te sluit by ʼn ontluikende generasie leiers en aktiviste wat verbind is tot mobilisering en organisering om mag aan die mense van Suid-Afrika terug te gee,” sê Gana. Wie dié leiers of organisasie is, het hy nie gesê nie. Hy is die jongste van ʼn hele rits leiers om die DA te verlaat.

Gana het in 2002 as ʼn 19-jarige student van die Universiteit van Limpopo by die DA aangesluit. Hy het die afgelope 20 jaar as aktivis, partylid en leier in die DA gewerk en was onder meer die party se jeugleier, adjunk- federale voorsitter en veldtogbestuurder van onder meer die 2016-verkiesing in Midvaal.

Die afgelope 13 jaar was hy ʼn DA-raadslid in Johannesburg, ʼn lid van die parlement en nasionale raad van provinsies, sowel as ʼn lid van die Gautengse provinsiale wetgewer.

“Ek verlaat die DA met ʼn skoon gewete en geen spyt nie, en met ʼn vaste doelwit en roeping om die land te dien.”

Gana het diegene bedank saam met wie hy die afgelope twee dekades gewerk het en het hulle die beste vir die toekoms toegewens.

“Daar is groeiende vertrouensbreuk tussen burgers en politieke partye wat beteken het baie stemgeregtigde kiesers het die geleentheid om te stem van die hand gewys – uit desperaatheid en teleurstelling.

“Ek glo nie enige van die bestaande politieke partye kan hul politiek en interne kultuur só heroriënteer dat hulle weer openbare vertroue op ʼn reuseskaal kan herwin nie.”

Hy sê in sy bedankingsbrief politiek in Suid-Afrika gaan in die toekoms gebou word op burgers se politieke bemagtiging, plaaslike organisering en deelname om groter klem op plaaslike kwessies te lê en nuwe jong leiers te kweek wat die land vorentoe gaan neem.

Dit moet die vermoë insluit om openbare verteenwoordigers en staatsamptenare verantwoordelik te hou.

Gana sê daar is ʼn nuwe generasie leiers wat hand opsteek om hierdie “nuwe politieke kultuur” te skep.

“Hierdie generasie kom na vore want die land gaan van krisis tot chaos met ons huidige politieke stelsel en leierskap wat dit vererger, eerder as om dit te stuit.

“Die nuwe geslag leiers het onderneem om iets nuut te skep: ʼn sterk, nasionale kollektief wat gegrond is op grondwetlike en maatskaplike geregtigheid, duidelike prioriteite en die gebruik van talent en vaardighede van diverse Suid-Afrikaners, hier en in die buiteland.

Hy gaan nou by “ander aansluit om te help bou aan ʼn inklusiewe politieke alternatief”. Volgens Gana is hy opgewonde oor die moontlikhede wat voorlê.

  • Die DA het nog nie kommentaar op Gana se bedanking gelewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

Ek wens ek wens ek kon vir jou sê die VF+ doen wel, maar dit sou nie die waarheid gewees het nie. Daar is nie ‘n politieke party wat ‘veel’ vir ons doen nie. Indien AfriForum polities sou draai, sou dìt die antwoord wees.

Friedrich ·

Die United Indeoendant Movement is wat my stem gaan kry, want die DA is all talk en minimale aksie..

Pierre ·

Glad nie ek lees dit dat hy na Maimane se One South Africa Movement op pad is
“Ek glo nie enige van die bestaande politieke partye kan hul politiek en interne kultuur só heroriënteer dat hulle weer openbare vertroue op ʼn reuseskaal kan herwin nie.”

Swerwer ·

Sal graag wil sien wie die nuwe generasie leiers wat hand opsteek om hierdie “nuwe politieke kultuur” te skep gaan wees en hoe hul gaan opstaan teen die Kommuniste.

Samuel ·

‘n Mens kan geen politieke party vertrou nie; nog minder die politici.

Mike ·

Daar is NIE EEN politieke party wat enigiets beteken vir die blanke van hierdie land nie, nie een nie. Hulle leiers is nie opgewasse om die blanke te lei na ‘n beter toekoms nie. Die VF is stokoud en die DA links liberaal wat net so ‘n groot probleem is as die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.