Nóg ʼn lid van korrektiewe dienste in Kroonstad aangekeer

Argieffoto

Nog ʼn lid van Kroonstad- korrektiewe dienste is in hegtenis geneem in verband met die besit van dwelmmiddels en ʼn onwettige vuurwapen.

“Die 34-jarige man is in hegtenis geneem ná ʼn klopjag op sy kamer op die perseel van korrektiewe dienste in Kroonstad,” het ao Loraine Earle, woordvoerder van die polisie, gesê. “Daar is beslag gelê op ʼn .38 Special Rossi-rewolwer, 17 Mandrax-tablette en R27 320 kontant.”

Volgens Earle is die vuurwapen vermoedelik gesteel van ʼn plaas in die Kroonstad-distrik.

Die man sal binnekort in die Kroonstad-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en dwelmhandel.

Dit volg na nóg ʼn lid van die korrektiewe dienste en sy vrou vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is in verband met veediefstal in die Steynsrus-gebied. “Edwin Sello Mothobi (52) is saam met sy vrou, Matsediso Suzan Mothobi (50), ʼn laerskooljuffrou in Kroonstad, in hegtenis geneem toe hulle Dinsdag 12 skaapkarkasse met ʼn straatwaarde van R24 000 in hul besit gehad het,” het Earle bygevoeg.

Die egpaar is omstreeks 05:00 tussen Senekal en Steynsrus saam met Alfonse Nthodi Mofokeng (35), Samuel Montshehi Monatisa (43) en Geelbooi Tsekeli (25) in hegtenis geneem.

“Hulle het Woensdag vlugtig in die Lindley-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde vee en veediefstal. Die saak is tot 18 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek en aansoek om borgtog. Die verdagtes bly in aanhouding,” het Earle gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanna ·

Word sekere mense inherent krimineel gebore? Hierdie betrokke mense het gesaghebbende posisies in die samelewing beklee, maar nee skelm wil ons wees. Sies! Skaam vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.