Nóg ʼn lyk op hoewe buite Pta gevind

Een van die liggame wat Dinsdag verwyder is. Foto: Verskaf

ʼn Derde liggaam is in ʼn grot op ʼn kleinhoewe buite Pretoria gevind, twee dae nadat twee lyke vroeër op die hoewe aangetref is.

Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die derde liggaam, ook dié van ʼn man, is Woensdag in die grot op die kleinhoewe in die Schurveberg-omgewing, wes van Pretoria, gevind toe die polisie die grot deursoek het.

Volgens Selepe is die grot groot en bestaan dit uit drie kamers. Die derde man se liggaam is verder van die ander twee sʼn af gevind.

“Die derde man se liggaam is verder ontbind as die ander twee liggame wat Dinsdag in die grot gevind is. ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die liggame vyf tot ses weke lank in die grot gelê het voor dit gevind is,” het Selepe gesê.

Maroela Media het Woensdag berig die eienaar van die kleinhoewe het Maandagmiddag die eerste twee liggame opgemerk en die polisie ontbied.

“Die polisie het dadelik ʼn ondersoek van stapel gestuur en die soek-en-reddingseenheid het begin om die twee liggame uit die grot te kry. Die poging het Dinsdag voortgeduur en die liggame is Dinsdagmiddag na die oppervlak gebring,” het Selepe gesê.

Die polisie doen in dié stadium ʼn geregtelike doodsondersoek om die omstandighede rakende die dood van die drie mans vas te stel.

“Sodra daar vasgestel kan word waaraan die mans dood is, kan die ondersoek ʼn ander wending neem. Die liggame is te ver ontbind om voorlopig te bepaal hoe hulle dood is en dit sal met ʼn nadoodse ondersoek vasgestel moet word.”

Selepe het gesê twee families het reeds na vore gekom in ʼn poging om die oorledenes uit te ken. “Weens die aard van ontbinding sal DNS-toetse gedoen moet word om die mans se identiteit te bevestig. Dit kan vyf tot ses weke duur om die uitslae te kry,” het sy gesê.

Selepe het gesê bewerings dat die oorledenes lede van die Zion-kerk is, kan nie bevestig word totdat die identiteit van die oorledenes vasgestel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.