‘Nog ʼn Majuba-silo toon tekens van verwering’ – Solidariteit

Die silo wat by Majuba ineengestort het.

Die silo wat by Majuba ineengestort het.

Eskom wou nie kommentaar lewer op “gerugte” dat een van sy oorblywende steenkoolsilo’s by die Majuba-kragstasie in Mpumalanga ʼn kraak in het nie.

“Die twee oorblywende steenkoolsilo’s is leeggemaak na die voorval en voorberei vir ʼn deeglike inspeksie,” het Andrew Etzinger, woordvoerder van Eskom, gesê. “Ons sal die uitslae bekend maak wanneer die inspeksie voltooi is.” Volgens Etzinger word daar inspeksies gedoen by Eskom se silo’s regoor die land. Etzinger het gesê geen van die silo’s by die Majuba-kragstasie word tans gebruik nie en dat tydelike maatreëls steeds in plek is.

Die vakbond Solidariteit het Donderdag gewaarsku teen Eskom se voortgesette ontkenning van die ware toestand van sy steenkoolsilo’s. “Dit volg nadat Solidariteit onlangs inligting bekom het dat die Majuba-kragstasie se silo 30 ʼn sigbare kraak van twee meter lank het – net meer as ʼn maand na die ineenstorting van sy silo 20,” het Deon Reyneke, hoof van Solidariteit se Energiebedryf, gesê.

Solidariteit het in die staatsbeheerde energieverskaffer onlangs per brief versoek om dringend die nodige stappe te doen om die ineenstorting van die genoemde silo te voorkom. Volgens Reyneke het Eskom tot dusver geweier om te erken dat hy voor 1 November se ineenstorting op senior vlak kennis gedra het van die strukturele probleme by Majuba se silo 20.

“Twee dae nadat die silo in duie gestort het, het Solidariteit ʼn verklaring uitgereik waarin hy aangevoer het dat Eskom reeds maande lank bewus was van abnormale vibrasies in die silo. Eskom het sedertdien herhaaldelik ontken dat hy enigsins daarvan kennis gedra het. Voorts het die maatskappy versuim om te reageer op ʼn brief van Solidariteit waarin die vakbond gepoog het om verdere inligting wat op die ineenstorting betrekking het, onder Eskom se aandag te bring,” het Reyneke gesê.

Reyneke het bygevoeg dat Eskom ʼn obsessie oor die bron van Solidariteit se inligting ontwikkel het. “Ons is nie bereid om ons inligtingsbron aan moontlike intimidasie en viktimisasie bloot te stel nie. Ons kan egter bevestig dat ʼn senior bestuurder, wie se naam aan ons bekend is, in ʼn amptelike Eskom-vergadering onthul het dat die maatskappy minstens sedert September vanjaar bewus was van die strukturele probleme by Majuba se silo 20.”

Etzinger het gesê Eskom doen ʼn beroep op Solidariteit om voort te gaan om inligting aan hulle te verskaf. “Eskom het ʼn oopdeurbeleid en ons is bewus van Solidariteit se verklarings rakende inligting wat in die verlede aan Eskom oorgedra is rakende die silo’s. Ons gaan voort om vir inligting te vra wat hulle in die verlede aan ons verskaf het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

zahn ·

Is daar nie veiligheidsgradering wat hier toegepas moet word nie? Die perseel is mos sekerlik as swaar industrie geklassifiseer, wat tot gevolg het dat daar iet soos HACCP of ISO gedoen moet word? Daar moet mos deeglike rekordhouding wees. Gaan dit na, kyk deur wie is dit gedoen, wat gedoen is, wat geskryf is, en doen dan daarvandaan die heksejag. Hoekom kry ek die gevoel die rekordhouding is of onvolledig, of deur ‘n “voldoende gekwalifiseerde persoon” , dws, van daardie wat nie sonder ‘n raadgewer kan funksioneer nie, uitgevoer?

Ek vra maar net…

Harry ·

Ja wat sal ‘n mens se? ‘n Sentrum in Tongaat val inmekaar en ‘n huis in Alberton ook en die Departement van Arbeid en wie weet nog, sak soos aasvoels neer. Ek het egter nog nie gehoor dat hulle die een ondersoek nie. Is dit omdat die een van hul eie is? Miskien moet Maroela bietjie navraag doen. Daar is niks wat die staatsdepartemente of semi staatsdepartemente so vining laat wakker skrik soos goeie joernaliste nie, wag miskien KFC?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.