Nog ʼn Medupi-eenheid by kragnetwerk gevoeg

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Eskom het Vrydag aangekondig eenheid nommer vyf van die Medupi-kragstasie is gesinkroniseer en is die tweede van ses 800MW eenhede om aan die nasionale kragnetwerk gekoppel te word. Die eerste van ses eenhede by Medupi is in Maart verlede jaar by die nasionale kragnetwerk aangesluit.

Sinkronisasie is die proses ná konstruksie wanneer dit vir die eerste keer aan die kragnetwerk gekoppel word. Nadat die eenheid met die kragnetwerk gesinkroniseer is, moet verdere optimalisering en toetse gedoen word om te verseker die eenheid is veilig en betroubaar. Sodra dit afgehandel is, word die eenheid as bruikbaar verklaar en aan die opwekkingsafdeling by Eskom oorhandig.

Brian Molefe, hoof uitvoerende beampte van Eskom, het in ʼn verklaring gesê die sinkronisasie van die tweede eenheid is ʼn goeie aanduiding dat die kragverskaffer goed op dreef is om die New Build-program te voltooi. “Hierdie mylpaal versterk ons mening dat beurtkrag iets van die verlede is. Ek is baie in my skik met hierdie prestasie,” het Molefe gesê.

Baldwin Ngubane, Eskom-voorsitter, meen die eenheid se sinkronisasie bewys Eskom “is in goeie hande”. “Ons loof die span wat verseker het dat die eenheid voor die geskeduleerde afsnytyd gesinkroniseer is. Dit is ʼn ongelooflike prestasie,” het hy gesê.

Eskom het aanvanklik in 2007, toe die projek van stapel gestuur is, gesê dit sal nie langer as vier jaar neem om te voltooi nie. Die projek is egter sedertdien verskeie keer vertraag deur onder meer stakings.

Wanneer Medupi voltooi is, sal dit die vierde grootste steenkool-aangedrewe kragaanleg en die grootste droë-verkoelde kragstasie (dry cooled) in die wêreld wees. Dit sal bestaan uit ses eenhede en sal oor ʼn kapasiteit van 4 800MW beskik.

Medupi maak gebruik van droë-verkoeling weens ʼn watertekort in die Lephalale-omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jakes ·

5jr en miljarde later as beplan…maar eish so loop hy.
Die ander eenhede oook elk nou 5jr neem om aanlyn te kom….?

Jakes ·

Hul kan van droeëverkoeling gebruik maak….koop net R160milj se nat steenkool by die Guptas.

Henk ·

ongelooflik hoedat dinge by Medupi nou begin gebeur, noudat die anc nie meer ‘n aandeelhouer van hi tachi is nie

Jan maak n plan ·

Dis ook n projek wat nooit gaan klaar kom nie. Sodra die laaste eenheid klaar is dan is die eerste se rak leeftyd klaar en.moet dit alweer vervang word.

Hendrik ·

Wel die land het op die oomblik genoeg krag kapasiteit want die ekonomie staan feitlik stil. Die ander kragstasies is regtig oud en hierdie nuwes moet klaar gebou word om die oues weer te vervang. Ongelukkig is dit ‘n proses wat nooit sal ophou nie. Ek weet my kar moet nou vervang word want dit is nou regtig oud en begin onbetroubaar word.

Lance ·

Bq laat want meeste wat die krag kan of kon bekostig het nou ander planne gemaak ….nou is daar weer seker teveel krag ….wil mos nie luister ! Nou gaan ons seker dieselfde pad met die water hoor ek …as daar nog water is

Pieter ·

Winkel Sentrums en besighede installeer deesdae sonpanele vir krag tot soveel as 3 MWATT. ESKOM gaan te veel krag produseer en minder kliente he. Hulle soek nog steeds geld en gaan dus pryse opstoot om te vergoed vir kliente wat hulle verloor. O ja hulle moet ook nog vir ‘over priced’ steenkool betaal aand bekende familie met regerings bande. Ons bly aan die kort end.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.