Nóg ʼn mortier in dam gevind

Een van die mortiere wat vroeër by die dam gevind is (Foto: SAPD)

Nóg ʼn mortier is in die Strelitziadam in Uitenhage gevind. Dit is tot dusver minstens die 20ste mortier wat in dié dam opgespoor is.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn groep kinders het Saterdag omstreeks 16:00 by die dam gespeel toe hulle op drie onbekende metaalvoorwerpe afgekom het. “Een van die voorwerpe is reeds positief as ʼn mortier geïdentifiseer. Kenners moet nog die twee ander voorwerpe uitken.”

ʼn Volwassene was in die omgewing en het die kinders gemaan om nie met die toestelle te speel nie. “Die persoon het dadelik die polisie ontbied. Die ondersoek duur voort.”

Maroela Media het in Oktober 2019 berig nóg 15 mortiere is in die omgewing van die Strelitziadam gekry, nadat verskeie ander mortiere vantevore daar gevind is. In daardie stadium is altesaam 19 mortiere reeds gevind.

Die polisie op die dorp het lede van die publiek gemaan om nié enige vreemde voorwerp wat in die omgewing van die dam gevind word, op te tel of te hanteer nie.

Die inwoners wat in Oktober op die mortiere afgekom het, het dit vervoer sonder om te besef dat dit dodelike gevolge kan inhou. Die mortiere was nog aktief.

ʼn Hengelaar het ook ʼn mortier gevind en dit onwetend hanteer. Hy het die polisie daarvan in kennis gestel wat op die mortier beslag gelê het.

Die dam se dalende watervlak die afgelope paar maande is moontlik die rede vir die ontdekkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

kolonel ·

Die kans is redelik skraal dat enigiemand wat weet nou bekkig gaan raak daaroor ;-)

Vriendelike Frikkie ·

Dit was al die jare, van WO I af, die aanvaarde manier om van onbruikbare lewendige ammunisie onslae te raak. Gooi dit in die see of ‘n diep dam. Ongelukkig was dit ‘n kortsigtige metode. Bomme, myne, handgranate, chemiese wapens ens. is by die honderd duisende regoor die wêreld in die see gestort. ‘n Derde van die Baltiese seebodem is bestrooi met die wapens. Dit is heel verstaanbaar dat dieselfde ook hier in die binneland gebeur het. Ek sidder om te dink wat lê alles ons groot damme se bodems.

Leon ·

Sê nou iemand het in die water geloop en sy toon teen die mortier gestamp. BOEM!!! en ons het moeilikheid.

Scalla ·

Wat gaan die polisie daarmee maak, seker as skroot verkoop?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.