Nog ’n motor raak pad byster by Chapmanspiek

‘n Argieffoto van Chapmanspiekrylaan. (Foto: Chapman’s Peak Drive/Twitter)

’n Motoris is in ’n Kaapse hospitaal opgeneem nadat haar motor Maandag die pad by Chapmanspiek in Kaapstad verlaat en teen die wal afgestort het.

Dit is die tweede voorval in enkele maande waar reddingspanne na Chapmanspiek ontbied is om ’n motoris te help nadat haar motor by die wal afgetuimel het. Die vorige padongeluk in Februarie het Lucy Thomas (25) verlam gelaat.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê die jongste oproep het Maandag net voor 18:00 gekom met die nuus van ’n motoris in nood by Chapmanspiek.

Die metro se brand-en-reddingsdienste en Wildernis-soek-en-redding (WSAR) is toe na die toneel waar reddingswerkers by die wal afgegaan het om die bestuurder van die motor te red.

Die vrou was die enigste insittende van die motor en het moontlik bilaterale femurfrakture en ’n gebreekte enkel in die voorval opgedoen.

Die vrou is op ’n draagbaar na bo gehelp voordat sy omstreeks 22:21 in ’n ambulans na die Vincent Palotti-hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Carelse sê reddingspanne van Kommetjie, Lakeside, die brandweer in Roelandstraat en die ambulansdiens Cape Medical Response was op die toneel om hand by te sit.

Maroela Media het vroeër berig Thomas is verlam gelaat nadat haar Volkswagen Polo op 17 Februarie naastenby 75 m ver by Chapmanspiek tussen Houtbaai en Noordhoek afgetuimel het. Sowat 50 reddingswerkers en vrywilligers het die betrokke dag gehelp om Thomas uit die wrak te bevry, voor die motor aan die brand geslaan het.

Sy het onder meer ernstige beserings aan haar ruggraat en -werwels opgedoen en moes sedertdien ’n sewe uur lange rugoperasie ondergaan. Die moontlikheid bestaan dat sy nooit weer sal kan loop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anna84 ·

Dis maar presies dieselfde geval as die berugte Voëlklip by Heroldsbaai. Nou gaan die pad seker ook toegemaak moet word, want dis die pad se skuld dat die ongelukke gebeur.

Swerwer ·

Jip, ek het aan dieselfde gedink. Wanneer gaan hul besef dit is nie die pad se skuld nie maar beslis ander redes. (Ongelukkig kan en mag dit nie hier geopper word nie)

Perdeby ·

En daar is ‘n klipmuur teen die afgrond se kant, so hoe gebeur so iets. …. op die foon??

ES ·

Die probleem is mense ry te vinnig daar. Dis nie ‘n renbaan nie…

Casper ·

Verskoon my,maar ek ken nie die pad nie maar is daar beskerming langs die die pad gebou op die hele roete of net gedeeltes.Ek ry eerder 5 km te stadig as 5 km te vinnig.Verkeerstekens is met ‘n doel daar.

Truthful ·

Hmmm meskien is iets aan die gang?.. Dalkies iemand wat iets op die pad neersit of of… Deesdae gebeur snaakse dinge in SA wat nie voirheen gebeur het nie.. My opinie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.