Nóg ʼn mylpaal vir brandoorlewende Sean

Sean Smith in sy skoolklere. Foto: Verskaf

Sean Smith in sy skoolklere. Foto: Verskaf

Alhoewel Sean Smith (17) nog “af” dae beleef, het die ondersteuning wat hy uit talle oorde ontvang het sedert hy verlede jaar by die dood omgedraai het, hom gehelp om ʼn nuwe mylpaal op sy pad na herstel te bereik.

Sean is Maandag vir die eerste keer terug na sy ambagskool, Suiderberg Skool in die weste van Pretoria, sedert hy op 17 Oktober in Centurion derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken, nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen het in ʼn fratsongeluk met petrol. Hy was vir lank onder verdowing en het behandeling in drie hospitale ontvang.

Hy is aanvanklik na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar dié private hospitaal hom op hul onkoste behandel het aangesien sy ma, Me-Lissa, ʼn enkelouer is en nie ʼn mediese fonds kon bekostig nie. Hy is daarna na die Dr. George Mukari-staatshospitaal oorgeplaas toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en miljoene rande is ingesamel om hom in Milpark-hospitaal in Johannesburg te laat opneem, waar hy sedert 30 Oktober gespesialiseerde behandeling ontvang het.

Hy is uiteindelik in Desember uit Milpark ontslaan waarna hy teruggekeer het na sy ouerhuis in Theresapark in die noorde van Pretoria waar hy ʼn intieme en rustige feesgety saam sy ma, ouer broer Dylin (19), jonger boetie Devin (11) en suster Michelle (13) deurgebring het.

“Devin het vanjaar met skool by Suiderberg begin. Elke keer as ek en Sean hom by die skool gaan op- of aflaai, drom Sean se skoolmaats om die motor saam om te hoor hoe dit gaan. Dit het naderhand ʼn lang proses geword. Ons het toe, met toestemming van sy dokters, besluit dat dit tyd is dat hy terug gaan skool toe,” het Me-Lissa Woensdag aan Maroela Media gesê.

Me-Lissa verduidelik Sean was aan die begin skrikkerig en skaam om weer sy skoolmaats te sien. “Toe hulle hom die eerste keer sien toe ons sy boetie gaan aflaai het, het hulle nadergekom en hom gegroet en drukkies gegee. Niemand het na hom of sy letsels gestaar nie. Hulle het vertel hoe hulle saam met almal vir hom gebid het en bly was met elke mylpaal wat hy bereik het. Dis toe wat ek vir hom sê hy het niks om oor skaam te wees nie, hy is ʼn hero in mense se oë.”

Sy het gesê die eerste paar dae terug by die skool het goed gegaan en hy word nie deur skoolmaats geterg nie. Hy het in Desember 17 geword en die skool het dit goed gedink om hom deur te sit na gr. 10 sodat hy kan voortgaan om in ʼn ambag te spesialiseer.

“Voordat hy terug is skool toe, was hy een aand baie negatief en het gesê dit sou beter wees as hy maar dood gegaan het. Ek het toe saam met hom deur die hordes boodskappe op Facebook en WhatsApp gegaan van al die mense wie se harte hy aangeraak het. Ons het honderde boodskappe van ondersteuning van regoor die wêreld ontvang en van mense wie ons nie eens ken nie. Dit het hom weer krag gegee om aan te gaan.”

Sy sê ook as Sean af voel, is Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, net ʼn oproep ver om hom moed in te praat. Annerie is self ʼn brandoorlewende wat Sean sedert sy ongeluk met raad en ondersteuning bystaan.

Sean moet vir die volgende jaar nog elke dag vir ʼn paar uur lank spesiale kledingstukke aan sy bolyf en arm dra wat druk plaas op sy wonde om te verhoed dat te veel letsels vorm. Hy sal moontlik weer geopereer moet word sodat kortisoon in letsels in sy nek ingespuit kan word.

Hy kan ook nog nie albei sy arms behoorlik gebruik nie en Me-Lissa probeer nou iemand naby die huis vind wat vir hom fisioterapie kan gee. As die fisioterapie nie werk nie, sal hy weer ʼn operasie moet ondergaan in ʼn poging om weefsel los te sny wat moontlik weens die brand geheg het.

Hoewel hy nog soms pyn en ongemak verduur, is hy reg vir sy volgende stap om weer in te skakel in die samelewing.

“Hy wil egter net op ʼn plaas wees en in die buitelewe. Ons was onlangs op ʼn vriend se wildsplaas in die Pienaarsrivier-omgewing en dit het wondere vir sy gemoed gedoen. Hy bly net vra wanneer ons weer soontoe gaan. Hy is maar ʼn regte boertjie uitgeknip,” skerts Me-Lissa.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

zahn ·

Dankie MM dat julle ons op hoogte houmet die klong se vordering. Boeta, jy moenie moed opgee nie, baie mense oral oor SA het duim vasgehou en gebid vir jou. Jy word gesien as ‘n produk van ons geloof. Hou uit ou grote, dis lekker om te leef!

lettie ·

Onthou Sean jy is n held deur so n vegter te wees en Christus was jou genadig. Ek is bly jy vorder so mooi. Dankie MM vir die opvolg van die artikel.

Lienkie ·

Jy is ‘n ma duisend Me-Lissa, jy is ook deur trauma, maar jy het sterk gestaan. Ons is so bly dit gaan al soveel beter met Sean, hy is ‘n pragtige seun, en ek sien nog baie deure wat vir hom sal oopgaan. Hou so aan Sean, jy is ‘n Champ en ‘n pragtige voorbeeld vir die jong mense .

Marianne ·

Sean my skat elke keer as tannie iets van jou lees, loop die trane weer. Ek is dankbaar vir elke stap in jou lewenspad. Ek kan verstaan dat jy af dae het. Ek weet jy is soms depressief maar my kind my leef. Dank God daarvoor.
Sterk wees – Positief wees – daar is baie baie mense wat lief is vir jou, wat bid vir jou en wat saam met jou ouers broers en sussie verheug is dat jy nog deel is van almal se lewens.
Jy kan – jy sal – jy gaan baie suksesvol in die toekoms wees.
Alle dank aan God vir hierdie pragtige kind se herstel tot nou.

Skapie ·

Baie dankie dat ons op hoogte gehou is. Ek is so dankbaar dat dit al so goed gaan met jou. Ons het baie vir jou gebid. Moenie moed opgee nie. Jy bly dan so ‘n aantreklike seun. Jou lewe is gespaar met ‘n doel.

Kate ·

Sean, glo my, jou positiewe dae gaan BAIE, BAIE meer wees as jou “af” dae. Boeta ons het almal vir jou gebid en ons doen dit nogsteeds. Sean jy is ons almal se Super Hero.

Liendempers ·

Ek klap vir jou hande Sean. Van blydskap omdat jy al kan terugkeer skool toe. Ek is dankbaar dat jy so mooi herstel. Elke keer wat jy jou letsel sien kan jy jouself weer daaraan herinner hoe sterk jy was en nogsteeds is. Ek bid dat dit elke dag net beter en beter sal gaan met jou.

Olga Robertson ·

Sean ek is so, so trots of dit wat jy al sover vermag het. Dis net eenmaals n bewyse dat God se genade onbeskryflik goed is. Jy sal nie glo hoeveel gebedes vir jou uitgegaan het nie, en ons bid nog steeds want die pad na herstel is mos maar een van geduld en tyd. Maar moenie worry nie ons het baie tyd en geduld om hierdie pad saam met jou te stap. Ek bly biddend dat die dae wat voorlê dae van sterkte en voorspoed sal wees. Ek hoop jy gaan elke dag van jou skool loopbaan sommer stukke baie geniet. Alles wat mooi is en sterkte .

Helene Heyns ·

Baie dankie vir hierdie positiewe nuus. Ek is ons Hemelse Vader dankbaar dat hy hierdie pragtige jongman so geseën het sodat hy weer sy lewe kan hervat. Ook aan sy ma. Julle is vegters en ek bid vir julle vir voorspoed op die pad vorentoe. Mooi loop.

Sus ·

Sterkte Sean! Jy is ‘n vegter en sal eendag terugkyk en weet jy het ‘n beter mens hier uitgekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.