Nóg ʼn omstrede Tshwane-grondtransaksie

Die stuk grond in Hartbeeshoek wat die Tshwane-metro gekoop het. (Foto: Google Earth)

Die Tshwane-metro het ʼn kaal stuk landbougrond vir R48 miljoen gekoop nadat die metro se eie interne waardeerder bevind het dat dit slegs sowat R10 miljoen werd is.

Dit is die vierde plaas wat Tshwane teen ʼn buitensporige prys aangekoop het kort voor die ANC in 2016 die munisipaliteit aan die DA afgestaan het.

Maroela Media het vroeër berig oor Tshwane se grootskaalse aankope van landbougrond en hoe middelmanne, in rug-aan-rug transaksies, oornag sowat R180 miljoen verdien het sonder om ʼn sent van hul eie geld te bestee.

Dié beweerde bedrogspul word nou forensies ondersoek in opdrag van Tshwane se burgemeester, Stevens Mokgalapa. Hy was reeds sedert Junie daarvan bewus, maar het die ondersoek inderhaas in Oktober gelas nadat AfriForum se private ondersoekspan kriminele klagte teen die munisipaliteit gelê het.

Die twyfelagtige transaksie wat nou weer aan die lig gekom het, behels die restant van gedeelte 38 en gedeelte 124 van die plaas Hartebeesthoek 303, wat sowat 25 km noord van die middestad van Pretoria geleë is. Die twee gedeeltes beslaan elk sowat 6,4 hektaar.

Die titelakte wys die Tshwane-metro het op 8 Oktober 2015 die geregistreerde eienaar van die twee gedeeltes landbougrond geword. Die koopprys was ʼn yslike R48 miljoen. Die proses om die grond teen daardie bedrag aan te koop het vroeg in 2015 begin.

Volgens dokumente in Maroela Media se besit het Metse Mabeba, ʼn direkteur by Tshwane se departement behuising en menslike nedersettings, in Maart 2015 haar kollegas wat eiendomme waardeer gevra om die twee gedeeltes se waarde te bepaal.

Dit beteken daar was toe reeds onderhandelings aan die gang tussen Tshwane en die eienaar van die grond, Phanda Projects (edms) Bpk.

Argieffoto

Mankuroane Matseba, ʼn professionele waardeerder in diens van die munisipaliteit, het die grond teen R800 000 per hektaar waardeer en volgens sy waardasie was die gedeeltes onderskeidelik R5,2 en R5,355 miljoen werd; in totaal dus net meer as R10,5 miljoen.

Dit wil voorkom asof Mabeba en Nava Pillay, wat destyds waargeneem het as uitvoerende direkteur van behuising en menslike nedersettings, toe reeds ʼn waardasie van R48 miljoen by Phanda Projects gekry het, want dié waardasie se datum is 22 Februarie 2015.

In Pillay se verslag wat op 15 April 2015 voor die burgemeesterskomitee gedien het, word net terloops na die interne waardasie verwys en sterk aanbeveel dat Tshwane die grond vir die eksterne waardasie van R48 miljoen aankoop.

Albei waardasies was by die verslag aangeheg maar geen lid van die komitee het die reuseprysverskil bevraagteken nie.

Die verslag meld ook dat ʼn woongebied, Chantelle uitbreiding 39, reeds goedgekeur is en dat 60 eenhede per hektaar, oftewel 702 eenhede in totaal, op die twee eiendomme gebou gaan word om die nypende tekort aan behuising in die omgewing te verlig.

Dis ʼn raaisel hoe Pillay die berekening gemaak het want selfs ʼn leek met ʼn basiese begrip van rekenkunde sou die geweldige teenstrydighede en rekenkundige onmoontlikhede in die Phanda Projects-waardasie gesien het.

Dié waardasie sê byvoorbeeld die grond is reeds hersoneer hoewel dit nou, byna vyf jaar later, steeds op Tshwane se Geografiese Inligting Stelsel (GIS) as landbougrond aangedui word.

Die waardeerder verwys vergelykenderwys na die pryse wat per hektaar vir soortgelyke grond in die omgewing betaal is, maar bereken dan die waarde van die Hartebeesthoek-gedeeltes per eenheid, asof dit reeds hersoneer is.

Hy ken ʼn waarde van R400 000 per eenheid toe, maar illustreer in sy berekening dat die prys per hektaar bereken is. Sy somme maak ooglopend geen sin nie en wys duidelik dat niemand die moeite gedoen het om die berekenings te verifieer nie.

Selfs al was die waarde per hektaar bereken, is die bedrag van R400 000 die helfte minder as die interne waardasie van R800 000 per hektaar en is dit dus onmoontlik dat die grond byna vyf maal meer werd kon wees as wat die interne waardasie beraam het.

Die eksterne waardasie is ook bereken asof 60 eenhede op elk van die gedeeltes opgerig sou word, met ander woorde 120 eenhede op die twee stukke grond.

Argieffoto

Dis ver verwyder van die 702 eenhede in Pillay se verslag en bevestig dat hy dalk nie die eksterne waardasie gelees het nie, óf dit misverstaan het.

Die R48 miljoen eksterne waardasie is deur ʼn geregistreerde waardeerder, Benjamin Makgakga, afgeteken op ʼn briefhoof van die maatskappy Demicol (Edms) Bpk.

Makgakga was verbaas toe Maroela Media by hom daaroor navraag doen, maar het vinnig onthou dat hy vyf jaar gelede eintlik slegs die betrokke waardasie afgeteken het en dat dit in werklikheid deur ʼn leerling-waardeerder, Sibusiso Mokgokong, gedoen is.

Volgens die webwerf Legal City was Mokgokong in 2015 Demicol se enigste direkteur. Die maatskappy het sake gedoen uit ʼn wooneenheid op die Equestria Landgoed in die ooste van Pretoria.

Demicol is in 2014 geregistreer en is sedert 2018 in deregistrasie. Mokgokong het skynbaar ook nie sy studie voltooi nie, want sy naam verskyn nie in enige registrasie-kategorie op die webwerf van die SA Raad vir die Eiendomswaardeerder-professie nie.

Maroela Media het Mokgokong telefonies opgespoor en sy verduideliking vir die verwarrende Hartebeesthoek-waardasie is dat dit slegs vir versekeringsdoeleindes gedoen was.

Hy het die verwarring tussen prys per hektaar en prys per eenheid as ʼn tikfout beskryf en volgehou dat die waarde van die grond wel R48 miljoen was. Hy het ook beweer dat hy onbewus was dat die grond na aanleiding van sy waardasie vir R48 miljoen aan Tshwane verkoop is.

Mokgokong het verder gesê dat die “eienaar” van die grond bevestig het dit was hersoneer en dat daar planne gereed was om 60 eenhede op elke gedeelte te bou. Hy het egter nooit die planne of ʼn bewys van die hersonering gesien nie.

Makgakga én Mokgokong het hulself ook skriftelik verontskuldig deur te sê ʼn waardasie is altyd slegs ʼn mening en dat die onus op die voorgenome koper berus om dit met omsigtigheid te bestudeer.

Makgakga het verder verduidelik dat ʼn derde waardasie gewoonlik aangevra word wanneer die eerste twee met meer as 10% verskil. Dis duidelik in hierdie geval nie deur Tshwane se amptenare of hulle politieke hoofde in die burgemeesterskomitee gedoen nie.

Die “kliënt” vir wie Demicol die waardasie gedoen het, was Thabang Moropa, ʼn sakeman en die seun van Phanda Projects se direkteur, die miljoenêr sakeman Baekeng Moropa, ook bekend is as Japie of Lucas Moropa.

Toe Maropa sr. deur Maroela Media gekontak is, was hy skynbaar reeds bewus van die navrae wat vroeër aan die waardeerders gerig is. ʼn Lid van Phanda Projects se destydse span het ook reeds die korrespondensie tussen die eksterne waardeerders en Maroela Media onder oë gehad en het saamgestem dat die waardasie nie sin maak nie.

Inligting dui daarop dat Phanda Projects in 2015 alles gereed gehad het om dorpstigting te aktiveer en die grond self te ontwikkel, maar dat daar skielik besluit is om dit aan die Tshwane-metro te verkoop.

Ná die koop deur is, het Tshwane se hoof van behuising, Amolemo Mothoagae, in Januarie 2016 ʼn verdere verslag aan die burgemeesterskomitee voorgelê om volmag te verkry vir die ontwikkeling van die betrokke gedeeltes van Hartebeesthoek 303.

Die getal eenhede in Mothaogae se verslag is as 1 026 aangedui, ʼn reusesprong van die 120 in die verwarrende eksterne waardasie en 318 meer as die getal wat Pillay agt maande vroeër in sy motivering aan die burgemeesterskomitee genoem het.

Mothaogae het ook terugvoering oor die status van die projek gegee en aangedui dat miljoene rande steeds benodig word om aan die vereistes vir dorpstigting te voldoen, hoewel daar aan al die vereistes, volgens Maroela Media se inligting, reeds voldoen was en die prys van R48 miljoen juis daarop gebaseer was.

Die hoof van finansies se antwoord was dat meer as R68 miljoen beskikbaar was.

Dit is nie duidelik wat daarna gebeur het nie, maar ʼn onlangse beeld van die grond op Google Earth wys dat gedeeltes 38 en 124 van Hartebeesthoek 303 steeds kaal en onontwikkel is.

Amolemo Mothoagae se naam is ook genoem in die drie twyfelagtige plaasaankope wat nou deur Tshwane ondersoek word. Sy het voorheen skriftelik geweier om medianavrae daaroor te beantwoord.

Pillay is ook voorheen genader en weer toe navorsing vir hierdie storie gedoen is. Hy het nie op navrae reageer nie.

Baekeng (Japie) Moropa het Maroela Media na ʼn voormalige lid van sy span verwys wat geen kennis gedra het van die prys wat vir die grond betaal is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Zorro ·

Niemand gaan tronk toe nie. Niemand betaal ‘n sent terug nie. WOW dis ‘n lekker plek die!

riaan ·

En om verder petrol op die vuur te gooi word ‘n eksterne forensiese ondersoeker ten duurste aangestel wel wetende dat daar NIKS van sy/ haar verslag sal kom nie!

Sven ·

Intussen moet belastingbetalers maar opdok te midde van powere diens.

piper ·

waar is die kapitaalwinsbelasting. ? gaan of het die ontvanger sy deel kry. ek word deur sars aangespreek vir belaglike goed net om uitbetaling te vertraag.

Johann cb ·

Ons land se ekonomie sal nóóit herstel tensy bedrog in Munisipaliteite aan bande gelê word nie!

My Opinie ·

Daar behoort beter oorsig te wees. Dit moet moeilik wees om n bedrag van meer as R10000 oor te betaal.
Ek stel voor n openbare platvorm. Enige iemamd moet op die internet kan sien daar is n aansoek vir n oorbetaling hanged, met n verduideliking waarvoor dit aangewend gaan word. Sodra daar bv. meer as 50 mense is, wat dit merk as verdag, stop die proses en word ondersoek. Die vordering hiervan word ook op die forum aangedui.
Daarna word dit betaal, teruggehou of gewysig.
Almal wat belasting betaal, mag insette lewer. Die res kan dit volg, maar het nie die reg tot insette nie.

Jared ·

Is sulke oorsig nie wat die verkose raadslede veronderstel is om te doen nie? Waar is die DA se raadslede? Missing in action? Te besig om raspolitiek te pleeg?

Dj ·

Lyk my as mens se van met ń M begin sukkel mens om mens se hande uit die till te hou!

Elizabeth ·

Wat is die kanse om die geld terug te kry?? Hou die misdadige amptenare persoonlik aanspreeklik!

Strandloper ·

Mmmmm….wat n duidelike voorbeeld van onossel lyk en optree maar in werkliheid n meester is in bedrog wat ons almal n rat voor die oë draai. Duidelik die top van die food chain bereik in die diere ryk. Ongelukkig kan hul nou nie iets aan hul looks doen nie en bly maar die spreekwoordelik aap met n goue ring.

F ·

Net ‘n bietjie kyk na berekeninge. 60 eenhede per hektaar vir 6 hektaar is 360 maal 2 is 720. Dit is beslis nie 120 nie. Die berig is dus feitelik misleidend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.