Nóg ʼn onderwysgraad by Akademia aangebied

Akademia-studente tydens ʼn sosiale geleentheid op die Centurion-kampus. (Foto: Verskaf)

Die privaat hoëronderwysinstelling Akademia het pas aangekondig dat BEd (Intermediêre Fase-onderwys) vanaf 2022 heeltyds by die Centurion-kampus aangebied gaan word.

Dié splinternuwe kwalifikasie, wat deur topakademici aangebied gaan word, dien as ʼn positiewe toevoeging tot die instelling se onderwysreeks nadat die reeds bestaande en suksesvolle Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) aan die begin van die jaar ʼn aanvang geneem het.

Die kursus BEd (Intermediêre Fase-onderwys) is toegespits op die opvoeding en opleiding van onderwysers vir grade 4 tot 6.

Graduandi van hierdie gehaltekwalifikasie sal wiskunde, Afrikaans en Engels, asook ʼn keusevak soos sosiale wetenskappe, lewensvaardighede of natuurwetenskappe tot graad 7 kan aanbied.

Die kwalifikasie sal studente in staat stel om uiteindelik as professionele onderwysers by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) te registreer.

Prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, meen dat dit ʼn strategiese besluit was om hierdie kwalifikasie te ontwikkel en aan te bied.

“Navorsing toon dat ʼn groot persentasie laerskoolonderwysers nie oor voldoende vakkennis beskik nie. Daarbenewens het Akademia ʼn toenemende aantal navrae vir ʼn kwalifikasie in Intermediêre Fase-onderwys ontvang,” sê Du Toit.

Die gesogte kwalifikasie is deur professore en vakkundiges landwyd ontwikkel om uiteindelik in die groot behoefte aan goeie onderwysers vir hierdie fase te voorsien. Nadat ʼn deeglike proses gevolg is, geniet die kwalifikasie akkreditasie by die Departement van Hoër Onderwys, en is by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid geregistreer.

Die NKR-vlak 7-program kan oor ʼn minimum van vier jaar voltooi word en daar word 50% vir onderskeidelik wiskunde, Engels en Afrikaans vereis vir toelating tot studie.

Benewens hierdie toelatingsvereistes is die ideale studenteprofiel vir so ʼn studierigting eerstens op ʼn hartsbesluit gegrond, verduidelik Du Toit.

“Die voornemende student moet lief wees vir mense – veral kinders – en om saam met hulle te werk. Die persoon moet nuuskierig wees, bereid om ʼn lewenslange student te wees, asook om ʼn dienende leier binne en buite die klas te wees.”

Du Toit meen dat die instelling se BEd-kwalifikasie uniek is in die opsig dat vakkundige verdieping in jare een en twee plaasvind, terwyl daar terselfdertyd van die praktyk geleer word.

In jare drie en vier word daar gefokus op die ontwikkeling van vakonderwyskennis – die belangrike kennis waaroor ʼn onderwyser moet beskik, en wat ook eie is aan onderwyser-wees.

Hy vertel verder dat studente in die twee jaar leer van en in die praktyk. Verder word die teorie en die praktyk deurlopend geïntegreer om te verseker dat die beginsels van samehang en progressie verantwoord word.

Du Toit reken dat dit belangrik is dat onderwysers gelewer word wat aanpasbaar is vir die vinnig veranderende en tegnologies gevorderde onderwysomgewing.

“Ons oogmerk by Akademia is om leerders se praktiese, grondliggende en refleksievaardighede te ontwikkel sodat hulle oor die vermoë sal beskik om konsepte, idees en optrede te integreer in outentieke, werklike kontekste. Ons studente word voorberei om lewenslange leerders te wees ten einde tred te hou en leiding te neem in die snelveranderende onderwysomgewing.”

Die kwalifikasietoevoeging word doelbewus heeltyds op kampus aangebied sodat studente individueel en ook as studentegemeenskap blootgestel word aan ʼn voortreflike akademiese kultuur en akademiese tuiste, terwyl hulle aan ʼn lewenskragtige studentelewe deelneem.

“Die BEd-studente gaan baanbrekers wees wat in hulle moedertaal help skryf aan ʼn nuwe hoofstuk in onderwysgeskiedenis in Suid-Afrika, wat in Christelike grondslae en Westerse erfenis in Afrika geanker is.”

Die doelwit van die Fakulteit Opvoedkunde, ongeag keuse van studierigting, is om uiteindelik afgeronde graduandi te lewer wat toegerus is met die nodige opvoedkundige teorie en onderwyskennis.

“Met die BEd-program beoog ons om studente in staat te stel om toegepaste vaardighede en bekwaamheid te demonstreer, en verantwoordelikheid as akademies en professioneel gekwalifiseerde intermediêrefase-onderwysers in uiteenlopende onderwyskontekste te neem.”

Studieaansoeke vir die die program BEd (Intermediêre Fase-onderwys) is reeds oop. Vir meer inligting oor die kwalifikasie, besoek www.akademia.ac.za, of woon die kampusopedag op Vrydag 3 September by.

Besprekings vir die opedag kan ook op die Akademia-webblad gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Harley Davidson ·

Die resultate wanneer bevoegde mense ‘n leemte identifiseer en dit aanspreek,nou nog net ‘n onafhanklike weskaap en die kaap is weer holands.

Keelvol ·

So graag as wat ek self die Wes- kaap as n onafhanglike staat wil sien, weet ons albei dat die ANC regering moet eers tot niet en die liberale moet almal uit die kaap trek.

Ruby ·

Oe hoe krul my tone nou :-)

Akademia, julle is ysters.

ONS SAL SELF!

Misky ·

Akademia is tops!!!!! Fantasties julle en al jul harde werk word raakgesien en julle help ons kinders en volk. En dis nes Ruby sê: My tone krul van lekkerte as ek dink hoe jaloers party gaan wees oor die prestasies en wat julle vermag in so kort tydjie

Jaco ·

Akademia brei uit en brei uit. Hoe kom hulle by regstellende aksie en BEE verby? Dis wet in SA dat ‘n besigheid, enige besigheid, daardie goed MOET toepas wanneer die aantal personeel ‘n sekere hoeveelheid oorskry en/of die besigheid se finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry.

jou gewete ·

nog n sukses verhaal. as die regering net wil verdwyn sal dit baie beter gaan

Esme ·

Akademia, julle kook! Wil jy met die ou in beheer praat of met die ou wat weet wat aangaan. Die ouens wat weet wat aangaan se naam is AKADEMIA!!! Welgegaan.

Jack ·

Nog n bewys ons kan self. Ons het nie die korruptes nodig nie.

Swerwer ·

Sal dit regtig toegelaat word dat diè wat studeer het en wíl werk , aangestel gaan word in tersiêre instellings? Ek het deesdae maar min geloof in regverdige aanstellings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.