Nóg ʼn ontbinde liggaam naby plaas gevind

Argieffoto

Argieffoto

Skaars vyf dae nadat ʼn hond wat aan ʼn menslike liggaamsdeel gekou het die Oos-Kaapse polisie na ʼn gru-toneel gelei het, is nóg ʼn ontbinde liggaam in die omgewing gevind.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê twee kinders het Vrydag omstreeks 10:00 in ʼn bebosde gebied langs ʼn rivier in Booysenspark in Bethelsdorp geloop toe hulle op ʼn erg ontbinde liggaam van ʼn onbekende man afgekom het.

“Die liggaam is in dieselfde omgewing naby die Damaskus-plaas gevind waar die ontbinde liggaam van ʼn tienermeisie verlede Maandag gevind is,” het Naidu gesê. “Die man se liggaam was in ʼn gevorderde fase van ontbinding. Sy identiteit kon nog nie vasgestel word nie. Hy het ʼn swart sweetpakbroek, rooi T-hemp en swart tekkies aangehad.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn inwoner van Booysenspark het verlede Maandag op sy hond afgekom terwyl die hond besig was om aan ʼn mens se hand te kou.

Die inwoner het die polisie ontbied en ná verdere ondersoek is die erg ontbinde liggaam van ʼn tienermeisie omstreeks 11:00 in die digbebosde gebied naby die plaas gevind. Daar word vermoed dat dit die liggaam van Shannon Fourie (17) is, wat in Desember as vermis aangemeld is.

Naidu het gesê die twee voorvalle word nie in die stadium met mekaar verbind nie. “In die tienermeisie se geval word ʼn saak van moord ondersoek. Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend nie. Ons wag nog vir die uitslae van DNS-toetse.”

In die man se geval word ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vra maar net ·

Wat laat ‘n persoon oorgaan tot moord op ‘n ander? Die moodenaar wees mos hy/sy gaan een of ander tyd aangekeer word. Buiten dit moet hulle met hulle gewete saam leef wat beslis nie ‘n maklike storie is nie. As hy/sy stil raak dan dink hulle tot daaraan.

Charlotte ·

Dit is SKOKKEND!!! Erens is daar n ma en pa wat soveel pyn smart en verdriet het. SA is n baie onveilige en gevaarlike plek!!!

Nadia ·

Sommige mense het nie empatie of ‘n gewete nie, en wroeg nie veel oor die lewens wat hulle neem of verwoes nie.

Liewe heksie ·

As jy n moordenaar is dan is jy een Ek dink polisie moet plek fynkam daar is dalk nog verrassings en bewyse of leidrade maar nou ja ons polisie is baie stadig met sulke dinge RIP

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.