Nóg ʼn onthoofde lyk in KZN opgespoor

Nawaaz Khan. Foto: sasaii.co.za

Nawaaz Khan. Foto: sasaii.co.za

Die ondersoek na die beweerde moetie-moord op Nawaaz Khan (23), wie se onthoofde liggaam vandeesweek in ʼn woud in KwaZulu-Natal opgespoor is, het gelei tot die ontdekking van nóg ʼn onthoofde liggaam en die inhegtenisneming van ʼn derde verdagte.

Brig. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê in die jongste voorval is die onthoofde liggaam van vrou Donderdag opgespoor nadat die polisie ʼn derde verdagte, ʼn veiligheidsbeampte in sy 30’s, in verband met die moord op Khan in hegtenis geneem het.

“Die verdagte is omstreeks 13:30 in Umzinto in hegtenis geneem. Hy is ondervra en het die polisie na ʼn veld oorkant Gandhinagar geneem waar hy die koplose oorskot uitgewys het,” het Naicker gesê.

Die man is ondervra oor waar die vrou se kop is en het die polisie na ʼn plek in die omgewing geneem waar ʼn vergruisde ontbinde skedel in ʼn plastieksak gevind is. Die liggaam en kop is na die staatslykshuis in Park Rynie geneem. Forensiese toeste sal gedoen word om te bevestig of die kop dié is van die onthoofde liggaam.

Die verdagte is in aanhouding en sal na verwagting Maandag in die Umzinto-landdroshof verskyn.

Intussen het die tweede verdagte, ʼn 31-jarige tradisionele geneser, wat Dinsdag in verband met Khan se moord in hegtenis geneem is, Donderdag in die Umzinto-landdroshof verskyn. Die geneser, Elisas Sihle Mchunu, wat bekend staan as “Maak ʼn Plan”, se saak is tot 19 November uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hy bly in aanhouding.

Thandowakhe Duma (21), Khan se vriend en die eerste verdagte wat in hegtenis geneem is, het Dinsdag die eerste keer in die hof verskyn. Dié saak is ook tot 19 November uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Khan is op 31 Oktober as vermis aangemeld. “Alle pogings om hom op te spoor was tevergeefs. Hy was na bewering in die geselskap van ʼn goeie vriend toe hy die laaste keer lewend gesien is,” het Naicker vroeër gesê.

Naicker het gesê terwyl speurders die afgelope naweek die vriend [Duma] ondervra het, het hy erken dat hy weet waar Khan se liggaam is. Hy het die speurders na die woud op Isonti geneem, waar hy die liggaam aan hulle uitgewys het.

“Khan se vriend het glo vroeër ʼn tradisionele geneser [Maak ʼn Plan] gaan spreek wat versoek het dat hy vir hom ʼn mens se kop bring wat sal help om sy probleme op te los,” het Naicker gesê. Die geneser en Khan se vriend het hom glo na die woud gelok, waar hulle hom met ʼn mes aangeval en sy kop afgesny het.

Sy aanvallers het sy selfoon, klere en tekkies gevat.

Duma het glo ʼn volle skulderkenning afgelê.

Maak ʼn Plan het ná Duma se inhegtenisneming op die vlug geslaan. Hy is Dinsdag in die Msholozi-informele nedersetting in Umzinto in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het die polisie na ʼn plantasie in Ellingham langs die N2-snelweg in Park Rynie gelei waar ʼn man se kop,  vermoedelik dié van Khan, begrawe is. Dit was erg ontbind en in verskeie plastieksakke toegedraai.

* Khan is in 2013 as Krieket Suid-Afrika se intellektueel gestremde speler van die jaar aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Han ·

Suid-Afrikaanse nuus sedert 1994: moord, verkragting, roof, korrupsie, leuens, diefstal. As daar goeie nuus is, word dit byna buite orde beleef!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.