Nog ʼn ontploffing ruk weste van PTA

Argieffoto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD, Facebook

Twee mans is Vrydagoggend beseer nadat twee tuisgemaakte bomme in Suiderberg, wes van Pretoria ontplof het.

Ao. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee mans, onderskeidelik 44 en 54 jaar oud, het in ʼn motor in ʼn oop veld gesit waar hulle glo besig was om met die tuisgemaakte bomme te eksperimenteer. “Die bomme lyk amper soos ʼn pypbom wat met skroewe en klein stukkies yster gevul is,” het Olivier gesê.

Een van die bomme het in hul motor ontplof, en een het ʼn paar meter van die motor af weg ontplof.

“Die mans het matige beserings opgedoen, en is na die Kalafong-hospitaal geneem waar hulle onder polisiebewaking is. Die motor het aansienlike skade opgedoen.”

Die mans word aangekla van die vervaardiging van bomme onder die Wet op Plofstowwe. Hulle sal in die hof verskyn sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word. Die motief vir die vervaardiging van die bomme is nie bekend nie en word ondersoek.

Die polisie se bomeenheid is na die toneel ontbied om die toestelle onskadelik te maak.

ʼn Man is op 20 Oktober by ʼn skrootwerf in Rebeccastraat, ook in die weste van Pretoria, dood en nog een ernstig beseer toe hulle aan ʼn antieke ploftoestel gewerk, en dit ontplof het. Die voorlopige ondersoek dui daarop dat dié ontploffing ʼn ongeluk was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.