Nog ʼn ontsnapte aangekeer voor hy landuit is

Argieffoto

Die polisie het nog ʼn verdagte wat in Desember saam met vyf ander uit die polisieselle op Hartbeespoort in Noordwes ontsnap het, in hegtenis geneem.

Volgens kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie, is Charles Chauke (34) omstreeks 18:30 Maandag in hegtenis geneem. “Die polisie het op ʼn wenk reageer en die verdagte in hegtenis geneem in ʼn taxi op die N4 tussen Rustenburg en Marikana. Die taxi was op pad na Mosambiek”.

Tselanyane het gesê Chauke was voor hy ontsnap het in aanhouding vir talle huisrooftogte in die Scheerpoort-omgewing.

Chauke se inhegtenisneming kom nadat Talent Machinda (25) omstreeks 23:00 op 28 Desember in hegtenis geneem is. Die polisie het inligting opgevolg dat hy naby Broederstroom opgemerk is. Machinda was in aanhouding vir die besit van gesteelde goedere en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Chauke en Machinda was deel van ʼn groep van ses verdagtes wat op 20 Desember ontsnap het. Die polisie is intussen steeds op soek na Felix Mlambo (26), Caiphus Shilenge (26), Henry Sithole (22) en Paul Samuel Mozite (24).

Dries Botha. Foto: Facebook

Mlambo en Shilenge is in hegtenis geneem in verband met die moord op die boer Dries Botha. Hulle is twee van die sewe verdagtes wat aangekla word van die moord op Botha in Julie 2017 op ʼn kleinhoewe naby Brits.

Die ander vyf vermeende moordenaars wat daarvan verdink word dat hulle betrokke was by die plaasaanval waartydens Botha sewe keer geskiet is, word steeds in dieselfde selle aangehou, het Tselanyane gesê.

Hulle is Promise Mlambo, Joshias Mgwenya, Tshepo Mokgobo (al drie 26), Trust Mfofiti (20) en Thomas Sambana (18).

Botha (57) het dae nadat hy op 4 Julie 2017 op sy kleinhoewe in die Kleinfontein-omgewing aangeval is, in ʼn hospitaal in Johannesburg aan sy wonde beswyk.

Enigiemand met inligting oor waar die ontsnapte verdagtes hul moontlik kan bevind, word versoek om kol. Simon Mokwena by 082 856 1326 te kontak.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elvira ·

Baie baie dankie aan die polisie en ook die persoon wat die wenk gegee het. Dit wys net weereens dat ALMAL in SA genoeg gehad het van misdaad.

Karlahari ·

Is dit nie moontlik om foto’s van die verdagtes te plaas nie?
Of is dit n skending van hulle “mense regte”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.