Nóg ʼn operasie vir baba Mienke

Baba Mienke in die hospitaal (Foto: Facebook)

Die eenjarige Mienke Mulder is steeds in die waakeenheid van ʼn Gautengse hospitaal nadat sy vroeër die week ʼn operasie ondergaan het om haar slukderm te vernou.

Ryno Mulder, Mienke se pa, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy en sy vrou, Verna, klou meer as ses maande ná die voorval by ʼn dagsorgsentrum in Mbombela (Nelspruit) steeds aan hul geloof – selfs al raak hulle soms mismoedig en wanhopig.

Mulder sê Mienke moes ʼn operasie ondergaan wat bekend staan as “Nissen fundoplication”. Die operasie behels laparoskopiese chirurgie om die slukderm te vernou omdat Mienke konstant haar kos en medisyne opgebring het.

Hy sê mediese personeel kon weens Mienke se gesondheidstoestand egter nié laparoskopiese chirurgie uitvoer nie en moes noodgedwonge deur haar maag sny om sodoende die slukderm te kan vernou. Mulder sê die operasie was ʼn sukses, maar die egpaar het groot geskrik toe Mienke tydens haar herstelproses ophou asemhaal het.

“Dis nie lekker om jou eenjarige kind daar in die teater te sien lê en nie te weet wanneer sy weer gesond sal wees nie,” sê hy. “Sy is dan veronderstel om rond te hardloop en saam met haar sussies te speel. En dan kry ʼn mens nóg ʼn groter skrik wanneer sy skielik ophou asemhaal. Dit het nie gebeur tydens die operasie nie. Sy was besig om te herstel en ek en Verna was saam met haar in die saal toe sy ophou asemhaal het. Dit was glo as gevolg van die narkose, maar die susters het dadelik ingespring en ʼn wonderlike taak verrig. Ons is baie dankbaar.”

Baba Mienke (Foto: Facebook)

Mulder sê dit gaan “onder omstandighede” goed met Mienke, hoewel sy ongemaklik is omdat sy Dinsdag laas gevoed is. Mienke word steeds deur middel van buisvoeding direk in haar maag gevoer. Sy sal volgens dokters egter eers volkome moet herstel voordat sy weer voeding sal kan kry.

“Dis moeilik vir my om nie konstant daar te kan wees nie. Verna se hart was baie seer omdat sy kon sien Mienke raak ongemaklik omdat sy nié gevoer is nie. Dit bly vir ons ewe hartseer soos die dag toe ons daardie oproep van die dagsorgsentrum gekry het. Maar met die seer bly ons ook hoop.”

Hy sê die gesin word gedra deur die boodskappe van gebede en bemoediging wat hul daagliks van weldoeners ontvang. “Meer as die ondersteuning wat ons van mense ontvang, is geloof ons enigste anker,” sê hy.

“Ons móét positief bly vir daardie klein lyfie wat in die hospitaal veg om beter te word. Daar is dae wat my onder kry en dan is daar weer dae wat Verna onder kry. Ons huil baie, dit bly baie seer en daar is steeds talle onbeantwoorde vrae. Maar ons bly bid en glo. Ons bly fokus op een goeie ding wat tussen die tien ander goor dinge gebeur. Ons weet dat ons nié sou kon staan as dit nie vir God was wat ons staande gehou het nie. Daarom weet ons, kom wat wil, dit sal God se wil wees.”

Maroela Media het vroeër berig klein Mienke is op 25 Augustus verlede jaar na die hospitaal gehaas toe sy aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ʼn geruime tyd sonder suurstof. Sy is vir etlike weke in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal verpleeg.

Weldoeners wat die gesin wil ondersteun kan die Facebook-blad Please Pray for Mienke besoek wat daagliks meer inligting oor Mienke se vordering gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

wilma ·

Baie, baie sterkte. Hoe gaan dit nou met Verna se gesondheid?

Genieve ·

Ek wil sommer huil. Sy is so pragtig ek vetrou die Here gaan julle as ouers hierdeur dra en dat hy sal onderneem.

Jane ·

My hart is te seer om enigiets meer te sê as net BAIE BAIE STERKTE vir die kleinding en haar mamma en pappa. Ons bid saam vir julle almal!!

GM ·

Arme poppie. Mag sy gou herstel, en haar ouers gedra word deur hierdie aaklige tyd.

BOLANDER ·

Baie sterkte. Mag HY haar heeltemal genees en vir julle by staan.

Bridget ·

Wil ook se baie baie sterkte ek bid elke dag vir julle as gesin wil ook graag weet hoe dit met Verna gaan en onthou Onse Vader hou Sy hand elke dag oor julle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.