Nog ʼn persoon verdwyn in see

Argieffoto

Daar is nog geen teken van die man wat Sondagoggend in die see by ʼn strand in Oos-Londen verdwyn het nie, maar die soektog na die man duur steeds voort.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê daar word vermoed dat die man verdrink het. Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê NSRI-bemanning is omstreeks 06:10 na die Oostelike Strand ontbied omdat daar glo ʼn man besig was om te verdrink.

Twee reddingsbote en ʼn aantal reddingswemmers is uitgestuur om na die man te soek. Die SAPD se reddingspan, honde-eenheid en duikeenheid het ook op die noodroep gereageer, saam met lede van die plaaslike brandweer- en reddingsdienste.

“Ondanks ʼn uitgebreide soektog was daar tot dusver nog geen teken van die vermiste 25-jarige man nie. Ons verstaan ʼn groep mense het in die see geswem toe die man in seestrome vasgevang is en onder die water verdwyn het. Die polisie se duikeenheid gaan steeds voort met die soektog en die polisie het ʼn ondersoek in die verband begin,” het Lambinon gesê.

Die voorval kom net ʼn dag nadat ʼn 13-jarige seun Saterdagmiddag in die see by Sheffield, noord van Durban, verdwyn het. Die soektog na die seun gaan ook steeds voort.

Lambinon het strandgangers en swemmers gewaarsku om van vandag af vir die res van die week uiters versigtig te wees aangesien die springgety Maandag sy spits sal bereik.

“Met die springgety wat nou aanbreek is seeswemmers en kushengelaars die meeste in gevaar,” het Lambinon gesê. Hy het die publiek aangeraai om slegs by strande te swem waar lewensredders aan diens is, om die veiligheidsopdragte van lewensredders te gehoorsaam en slegs binne veilige swemareas te swem. Kinders moet slegs swem wanneer volwasse-toesig teenwoordig is.

Hengelaars word aangeraai om nie hul rug na die see te draai nie en deurentyd bewus te wees van die golwe wanneer hulle visvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ada ·

Die Valies bring broodnodig geld in na vakansiebestemmings.Hulle werk hard deur die jaar en meeste werk by hoofkantoor en nie by provinsiale kantore nie.Hulle het ook n welverdiende ruskans nodig soos ek en jy Wouter.

Leeu ·

Ek stem Ada, as ek na die tyd kyk, wil dit vir my meer voorkom na n local elkgeval.

Susan ·

Die Valies moet asseblief tog net hulle eie drinkwater saambring, anders gaan hier ‘n groot krisis kom. Hulle sal hulle in elk geval nie steur aan waterbeperkings nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.