Nog ʼn petrolskok wag

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Huidige ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (SEF) dui op ʼn yslike brandstofprysverhoging in Junie. Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê verbruikers kan moontlik onder verdere druk geplaas word omdat die regering se tydelike verligting in die vermindering van die brandstofheffing word teen einde Mei opgehef.

Die regering het teen die einde van Maart die brandstofheffing met R1,50 vir April en Mei verlaag en dit het tydelike verligting vir verbruikers gebring, sê die AA. “Die groot vraag nou is hoe die regering van plan is om ʼn styging in die brandstofkoste vanaf Junie te hanteer. Gebaseer op huidige, ongeouditeerde data van die SEF sal petrol met tussen R1,60 en R1,62 per liter styg, en paraffien met R2,14 per liter.”

Die AA sê dit is belangrik om kennis te neem dat dié verhogings data van die middel van die maand verteenwoordig, en dit is moontlik dat die finale data tussen nou, en wanneer die wysiging aangekondig word, kan verander.

“Die twee grootste faktore wat ʼn invloed het op plaaslike brandstofpryse is die rand/dollar-wisselkoers en internasionale oliepryse. Die rand verwissel tans swakker teen die dollar en oliepryse is steeds hoog. Die vooruitsig vir Junie se brandstofpryse is dus glad nie positief nie.”

Die AA sê dit is ook belangrik om kennis te neem dat soortgelyke neigings tans wêreldwyd gesien word en stygende brandstofkoste dra ook noemenswaardig by tot verhoogde lewenskoste in ander lande.

“Alhoewel die regering se tydelike verligting van die brandstofheffing verwelkom word, is ʼn langer termyn oplossing nodig. Toe die regering die verligting in Maart aangekondig het, het die minister van minerale hulpbronne ook ander maatreëls voorgestel wat in werking sou tree ná die tydelike maatreëls opgehef is. Die einde van Mei kom egter nou vinnig nader. Die regering moet hierdie kwessie vinnig aanroer; verbruikers is angstig oor wat vir hulle voorlê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Papsak ·

Nee kyk nie een van hulle voel iets vir ons en die land nie hulle sit net op en op en kry net nie n einde nie hoever wil hulle ons druk ek weet regtig nie wat gaan aan nie

Nie Verbaas ·

Regering voel vere vir die publiek nie. Belastingbetaler betaal mos vir hulle brandstof.

Burgermeester ·

So paar weke terug was daar ‘n ander oom wat ‘n saamsleep geleentheid agter die Engen trok gekry het. Kan enige iemand onthou waar hy sy trollie gekry het? Iets sê vir my daai ou was ‘n ‘visionary’. Die stygende brandstofprys dwing nou ‘n man om alternatiewe vervoer te soek.
Ek weet van iemand se skoonma wat al klaar ‘n besem het.

Kerrie ·

Julle is so oulik om al die brandstof pryse, lingo en toevoegings te ken en verduidelik…
…… wys ons nou bietjie hoeveel brandstof en belasting subsidie taxi-eienaars nou al elke maand van die staat af kry…

…hulle is tjoep-stil, soos n boetie wat meer sakgeld as sy sussie kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.