Nóg ʼn plaas deur voëlgriep getref

Argieffoto

Die departement van landbou het bevestig dat die hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus op nóg ʼn plaas naby Standerton in Mpumalanga uitgebreek het.

Dit volg nadat ʼn uitbreking van die virus verlede week by ʼn braaihoenderboerdery ook in Mpumalanga bevestig is. AgriSA het Vrydag in ʼn verklaring gesê dié toestand is ook op ʼn plaas naby Villiers in die Vrystaat bevestig.

Bomikazi Molapo, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring gesê die twee plase in Mpumalanga is nie direk met mekaar verbind nie, wat beteken die virus moes op afsonderlike maniere by die plase uitgebreek het. “Die plaas [naby Standerton] is onder kwarantyn geplaas en meer as 25 000 van die pluimvee wat besmet is, sal van kant gemaak word. Daar word ook nie toegelaat dat eiers van die plaas af geneem word nie,” het Molapo gesê.

Die besmette hoenders op die ander plaas in die provinsie is reeds van kant gemaak en die departement doen ʼn ondersoek om die oorsprong van die virus vas te stel.

“Staatsveeartse in die twee provinsies doen inspeksie-ondersoeke binne ʼn 30 km-kontrolestrook rondom die Vrystaat en Mpumalanga vir ander moontlik besmette persele,” het Molapo gesê. Pluimvee en pluimveeprodukte mag slegs van die betrokke plase af vervoer word met ʼn permit wat deur ʼn staatsveearts uitgereik is.

Die departement het verlede week gesê ʼn landwye verbod op die verkoop van lêhoenders as slaghoenders geld tot verdere kennisgewing. Molapo het gesê die departement sal oor 14 dae die situasie herevalueer om te besluit of die verbod opgehef kan word.

“Dit duur ongeveer vier dae vir ʼn besmette voël om kliniese tekens van die virus te toon. Ons doen ʼn beroep op kommersiële en agterplaas-boere om enige gevalle waar ʼn groot getal voëls vrek by die naaste staatsveearts aan te meld sodat dit ondersoek kan word,” het hy gesê.

Daar is nog geen gevalle aangemeld van mense wat deur die voëlgriepvirus besmet is nie, maar beskermende klere moet gedra word wanneer enige siek, dooie of wilde voëls hanteer word. “Vleis van gesonde pluimvee is veilig vir menslike verbruik aangesien dit onderhewig is aan streng vleisinspeksieprosesse by abattoirs. Ons versoek mense om geen voëls te eet wat dood, sterwend of siek gevind word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Sal ‘human righters’ gehoor gee? Ons gesondheidsinstansies is nie opgewasse vir ‘n uitbraak onder die menslike spesie nie…

MCH ·

Ek wonder hoe effektief is Onderstepoort deesdae om sulke peste en plae te kan hanteer. Leesstof beskikbaar wat dui op die groot uittog van kundigheid in die 90’s laat maar n droewige prentjie van die eens trots navorsings instansie.

Blits ·

Die eerste uitbraak was nie in Mpumalanga nie, dit was eerste in Villiers gewees, gevolg met baie sterk bio sekeriteit maatreels wat gevolg word en kwarantyne wat inplek is van die 22 Junie

hennetjie penn ·

dit kom gerieflik na die klagtes oor Amerika en China se surplus hoender invoere gekritiseer was. met die vo3lgriep kan hoenders mos nou sommer uit guptaland oom ingevoer word. kan iemand uit daardie omgewings ons inlig met eerstehandse kennis of daar werklik voêlgriep was?

Inge ·

Ek het ontwetend hoender van die VSA gekoop by Fruit & Veg en toe ek by die huis kom toe sien ek dit eers. Ek kan eerlik se daar is ‘n groot smaak verskil. Ek sal dit nie weer koop nie. Ek bly lokaal!

tink ·

jy het n geldige punt hennetjie penn. sal interessant wees om te hoor van sulke hoenderboere.

Kobus van Niekerk ·

Opskrif??

Nog ‘n plaas? Is julle feite korrek, ‘n tweede plaas met voëlgriep?

Blits ·

Daar nou altesaam 3 plase positief getoets vir voëlgriep, een by Villiers, 1 by Greilingstad en 1 iewers in Moumalanga, Die een by Villiers is die hele plaas se lê henne al uitgesit en baie hoë boi sekeriteit maatreels en voorkomende maatreels is in plek gesit, die situasie word gemonitor en elke dag word verslae van die plase in 30km raduis ingevorder en morts word gekontroleer, Ekstra hoenderr vleis gaan nie ingevoer word nie omdat die groot maatskapye reeds met n oorskot sit, die hoender vleis wat nie besmet is nie is veilig om te eet, geen besmette vleis sal n abbatior haal nie omdat dit eers getoets word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.