Nog ’n plaas onder kwarantyn weens voëlgriep

(Argieffoto)

Nog ’n plaas in Gauteng is onder kwarantyn geplaas wees voëlgriep.

Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging is ʼn tweede uitbreking van die hoogs aansteeklike (HPAI) voëlgriep aan die Oos-Rand aangemeld. Dié keer op ʼn braaikuiken-teelplaas nadat die eerste geval verlede maand op ʼn lêhoenderplaas aan die Oos-Rand geïdentifiseer is en die betrokke maatskappy sy 240 000 henne van kant gemaak het.

In die jongste geval word daar nou ook pluimvee van kant gemaak onder die toesig van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Die vereniging het in ’n verklaring daarop gewys dat die tweede uitbreking dieselfde is as die eerste uitbreking, wat beteken dat dit nie ’n wesenlike invloed op die huidige handelsbeperkings wat reeds in Suid-Afrika se buurlande geld behoort te hê nie.

Namibië verbied tans die invoer van pluimveeprodukte uit Suid-Afrika se kompartement 18/500 (die gebied waar die eerste uitbreking plaasgevind het). Botswana en Mosambiek het ook alle hoendervleis, -eiers en -vere uit Suid-Afrika verbied, en Lesotho het eiers uit Gauteng verbied.

Luidens die verklaring is die uitwerking op die deurlopende aanbod van hoendervleis minimaal. Die vereniging het verbruikers die versekering gegee dat hoendervleis en eiers veilig is om te eet mits dit behoorlik (bo 60 grade Celsius) gaar gemaak word.

Maroela Media het vroeër berig twee plase, onderskeidelik in Gauteng en Noordwes, is verlede maand ook onder kwarantyn geplaas weens voëlgriep.

Die departement het reeds alle pluimveeboere sowel as diegene wat voëls aanhou, versoek om die volgende bioveiligheidsmaatreëls toe te pas:

  • Hou voëls weg van gebiede wat deur wilde voëls besoek word;
  • Oefen beheer uit oor die toegang tot pluimveehuise deur mense en toerusting;
  • Moenie water en voedsel voorsien op ’n manier wat wilde voëls kan lok nie. Voer voëls eerder onder bedekking of in ’n afsonderlike struktuur;
  • Handhaaf die korrekte wyse van ontsmetting van die eiendom, pluimveehuise en toerusting;
  • Moenie voëls waarvan die siektetoestand onbekend is by ’n swerm of groep voeg nie;
  • Pas die toepaslike beheermaatreëls toe by die verwydering van mis en dooie voëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.