Nóg ’n plaasaanval in Limpopo

Houtboschdorp: ‘n Voetspoor van een van die verdagtes wat op die toneel gevind is. (Foto: Heritage Protection Group/Facebook)

’n Bejaarde egpaar en hul huishulp is Sondag in die vroeë oggendure op ’n plaas in die omgewing van Houtboschdorp naby Haenertsburg in Limpopo aangeval. Dié plaasaanval is een van verskeie oor die afgelope week in dié provinsie.

Brigadier Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê drie gewapende verdagtes het omstreeks 02:45 by die plaashuis ingebreek en die egpaar oorval. Die egpaar is intussen geïdentifiseer as Ludwig (73) en Hester (70) Kietzmann.

Volgens Mojapelo het die verdagtes op kontant aangedring en Hester is in die proses met ’n vuurwapen aangerand.

Die verdagtes het toe die huis geplunder en kontant, drie vuurwapens en die egpaar se selfone gebuit voordat hulle na die huishulp (48) se kamer beweeg het. “Sy is vasgevind waarna die verdagtes kontant en haar selfoon geneem het. Hulle het daarna op die vlug geslaan.”

Jeremias Solomone Macheque is Saterdag op ‘n sitrusplaas buite Marble Hall doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Volgens Mojapelo is niemand nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.

Dié Houtboschdorp-aanval volg kort nadat ’n voorman Saterdag op ’n sitrusplaas buite Marble Hall doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig Jeremias Solomone Macheque (39) het omstreeks 13:00 in ’n voertuig op die plaas gesit om plaaswerkers se lone namens sy werkgewer te betaal, toe drie onbekende verdagtes hom oorval en geskiet het. Die verdagtes het met die kontant op die vlug geslaan en is steeds op vrye voet.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het intussen gesê die aanval op Macheque was die derde aanval binne ’n week in dié provinsie.

Dit nadat Albertus Kotze (48) Woensdagmiddag op sy plaas in Tinmyne buite Mokopane (Potgietersrus) deur ʼn groep mans oorval en aangerand is. Dit was die tweede aanval op Kotze binne die bestek van twee maande.

“Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die oorlog teen misdaad in landelike gebiede verloor het en dat hierdie gemeenskappe onder misdadigers deurloop,” het Smalle in ’n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Harry ·

Glo my, hierdie is erger as Covid-19 want hier word gediskrimineer. Jy neem die gesig van sagte teiken aan en betaal vir n ontkennende beleid. Wanneer hou ons op???

Elize ·

Die polisie het die stryd in die hele land verloor nie net in die landelike gebiede nie!

Magda ·

Goeie hemel – Sterkte aan Jeremias se familie, en hoop ook die 2 oumensies sal volkome herstel.

Johannes Andries ·

Nee die polisie verloor nie die stryd nie. Hulle is net te besig om die publiek te visenteer vir sigarette en bier

Yvonne ·

Die jongman het n SA t hemp aan…sy lewe moes gee vir mamon….hoe bitter tragies

Piet ·

Waar is die president nou?Daar is soveel van die misdadigers in SA wat weer vrygelaat word of borg kry en net nooit weer hof toe kom nie. Dit is ‘n sirkus.

Leon ·

Die polisie het nie die oorlog verloor nie. Hulle nognie betrokke geraak nie. Hulle sit op die kantlyn soos die ANC regering hulle aangesê het om the doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.